Jong egpaar sterf dag ná troue

Austin Wesson en Rebekah Bouma is in ʼn hof in Kansas in die VSA getroud. Foto: Facebook

ʼn Suid-Afrikaanse man en sy nuwe Amerikaanse vrou was net ʼn dag getroud toe hulle albei tragies in ʼn motorongeluk gesterf het.

Austin Wesson (19) en Rebekah Bouma (19) is Vrydag ná ʼn warrelwindromanse van ses maande in ʼn hof in Kansas in die VSA getroud. Die volgende dag het die egpaar se voertuig op ʼn grondpad naby Clearwater, suidwes van Wichita in Kansas, die pad verlaat en teen ʼn boom gebots. Austin is op die toneel dood verklaar, terwyl Rebekah na ʼn hospitaal gehaas is. Sy is Maandagoggend dood.

The Wichita Eagle berig Rebekah het Austin ontmoet toe sy in Februarie op ʼn sendinguitreikprojek in Suid-Afrika was. In April het Austin deur middel van ʼn video-oproep haar pa, John Bouma, vir sy toestemming gevra om ʼn romantiese verhouding met sy dogter aan te knoop. “Hy was ʼn baie ernstige en respekvolle jong man. Ek het hom my seën gegee,” het John aan die koerant gesê.

Rachel Bouma, Rebekah se ma, het haar dogter as onbaatsugtig beskryf en gesê sy het ʼn passie daarvoor gehad om ander mense te dien. “Sy was lief daarvoor om betrokke te raak by mense en te help met wat ook al hulle nodig gehad het,” het sy gesê.

Austin Wesson en Rebekah Bouma. Foto: Facebook

Austin was ʼn branderplankry-instrukteur wat in Kaapstad grootgeword het. Hy en Rebekah het aan verskillende Christelike sendinguitreikprojekte deelgeneem toe hulle ontmoet het en het daarna baie deur middel van Facebook gesels, het Rachel gesê.

Volgens The Wichita Eagle het die paartjie besluit om in die hof te trou om Austin se immigrasieproses te vergemaklik. Die paartjie sou na Grand Rapids in Michigan verhuis om aan nog sendingprojekte deel te neem en het beplan om ʼn groter troue in September in die VSA te hou waarvoor Austin se familie van Suid-Afrika sou reis om dit by te woon.

Washington Post berig Rebekah het reeds haar trourok gekoop en die troue sou in die agterplaas van haar ouerhuis onder die bome gehou word. Rebekah se susters, wat haar strooimeisies sou wees, beplan nou om hul blou strooimeisierompe vir die begrafnis aan te trek.

Rebekah se ma het aan The Wichita Eagle gesê baie mense bevraagteken hoekom Rebekah en Austin op so jong ouderdom getrou het. “Daar is geen twyfel dat hulle vir mekaar bedoel was en dat hulle mekaar baie lief gehad het nie,” het sy gesê. “As jy hulle by mekaar kon sien, sou jy geweet het. Hulle was so mooi paartjie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Arsène Lupin ·

Dit is regtig baie tragies. God het vir hul ‘n hoër roeping gehad – RIV.

Ali ·

My ma sê altyd die Here kom pluk sy mooiste blomme eerste.
In die geval is dit verseker waar.
Baie sterkte aan die familie

antonie ·

Hulle het probeer om n beter wereld vir ons almal te maak, hulle het hul liefde vir mekaar uitgeleef-RIP

Sarel ·

Dankie gert
Bitter min mense op aarde wat daardie waarheid besef

Hartseer ·

Die Here het hierdie 2 engele nodig by Hom!
Dis baie harsteer. Rus in vrede!!!
Sterkte aan al die ouers.

Hartseer ·

Ek het vir Austin taamlik goed geken en hy was werklik ‘n seun met ‘n pragtige hart. Hy was passievol oor sy geloof en het dit uitgeleef. Kan nie help om te voel dat sy lewe gesteel is nie.

Theresa ·

Dis bitter tragies – op die randjie van ‘n pragtige toekoms saam om ‘n verskil te maak! Baie simpatie aan die familie en vriende.

RITA ·

So hartseer. Nou is hulle vir ewig saam. Sterkte aan die families.

Sanet ·

Ons dien nie n selfsugtige God nie. Hy sal nooit ‘ die mooiste blommetjie vir Sy tuin pluk nie. Hy het ook geeneen van ons as hulp in die Hemel nodig nie. Gaan doen n studie oor die toestand van die dode, dis baie duidelik dat elkeen wat sterf in die graf rus tot die opstanding môre wanneer Jesus Sy kinders kom haal.

DS ·

Sanet duidelik het jy nog nie ‘n geliefde aan die dood afgestaan nie of is jy net plein gevoelloos. Los die mense wat nog harte het en uitreik na die mense wat hulle geliefdes verloor het. Eendag is dit dalk JY wat berusting en bemoediging uit ander se woorde gaan nodig hê.

$ ·

Sanet is nie gevoelloos nie; sy stel net onwaarhede wat oor God ons liefdevolle Vader verkondig word, reg.
Waarvoor sou God mense nodig hê, veral in die hemel? God het geen mens nodig nie; elke mens het God egter nodig (al ontken sommiges dit en selfs ook Sy bestaan).
En waar God mense gebruik is op die aarde, nie in die hemel nie. Hy het engele om Hom te dien.
God self het sy Seun gestuur om ons van ewige dood te verlos; waarom sal Hy Sy “blomme” wil kom “pluk”? In Sy Woord spreek hy LEWE, waarom sal Hy dan dood kies?
Oppervlakkige woorde oor blomme wat gepluk word bring oppervlakkige troos. Ware troos is die wete dat hulle nou in God se ewige teenwoordigheid is sonder die skeiding en hartseer wat ‘n sondige wêreld bring; nie omdat God “tuinmaak” nie maar omdat Hy sy Seun gestuur het om die angel van die dood te vernietig.

En ja, ek (en waarskynlik Sanet ook) het reeds geliefdes baie na aan my aan die dood afgestaan – en glo my, ‘n “blommetjie in ‘n tuin” bied geen troos nie – maar wel die vooruitsig van ” ‘n lewe by God”.
Oppervlakkige troos soos “blomme

Hes ·

Dit is baie hartseer. God gee en Hy neem op Sy tyd en nie op ons tyd nie. Sanet as jy na jou afsterwe in jou graf gaan lê en wag tot Jesus jou of enige een kom haal wag daar ‘n groot teleurstelling, jou oorskot sal net bly waar dit is, hoe dink jy gaan Hy kom en hoe en waar gaan hy almal EENDAG heen neem?

DS ·

Whatever $ en Sanet. Probeer net uit een mond praat maar tipies julle klomp wat alles weet van wat na dood gebeur weerspreek julle 2 mekaar. Miskien julle Bybel meer in diepe gaan lees en dan sal julle weet moenie judge nie. Elke mens verwerk sy seer op sy eie manier – maar dis julle tipe wat mens laat twyfel of besluit om weg te bly van godsdiens – en iewers in die Bybel word daaroor ook iets gese maar ongelukkig is ek nie so kundig soos julle om presies te weet waar nie! Maar weet verseker julle optrede is nie in God se oë aanvaarbaar nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.