Jong man sterf ná hy in koma terugkeer uit Noord-Korea

Otto tydens sy verhoor. Foto: AP Photo/Jon Chol Jin, File

Die Amerikaanse student wat 17 maande lank in aanhouding in Noord-Korea was en vroeër die maand in ʼn koma in die VSA aangekom het nadat hy vrygelaat is, is dood.

Otto Warmbier (22), wat verlede jaar tot 15 jaar tronkstraf en harde arbeid in Noord-Korea gevonnis is, is Maandagmiddag dood. “Hy was omring deur sy liefdevolle familie,” het die familie in ʼn verklaring gesê.

Dokters wat Warmbier behandel het nadat hy van Noord-Korea af teruggekeer het, het vroeër gesê hy het asemhalingsprobleme weens ʼn oordosis medikasie. Die dokters wou egter nie spekuleer of daar doelbewus met sy medikasie gepeuter is nie aangesien daar byna geen besonderhede is rakende die behandeling wat hy in Noord-Korea ontvang het nie. Volgens die dokters het Warmbier ook ernstige neurologiese beserings gehad.

Die VSA het intussen weer geëis dat die drie ander Amerikaanse burgers wat tans nog in Noord-Korea aangehou word, onmiddellik vrygelaat word.

Warmbier het op 13 Junie in ʼn koma op die lughawe in Cincinnati in Ohio aangekom. ʼn Senior beampte van die Amerikaanse staatsdepartement het Warmbier se vrylating op humanitêre grondslag bewillig.

Warmbier het op 13 Junie in Ohio aangekom voor hy na ‘n hospitaal geneem is. Foto: AP Photo/John Minchillo

Warmbier is in Maart 2016 tot tronkstraf gevonnis nadat hy op Oujaarsaand in 2015 propagandamateriaal gesteel het. Hy het ʼn politieke banier gesteel by ʼn hotel in Pjongjang waar hy en ʼn toergroep tuisgegaan het. Hy is op 2 Januarie 2016 in hegtenis geneem toe hy die land wou verlaat.

Warmbier was deel van ’n Nuwejaar-toergroep wat van Noord-Korea na Hongkong sou reis. Die VSA het geen diplomatieke of konsulêre verbintenis met Noord-Korea nie. Warmbier se ouers het geen woord van hul seun gehoor sedert hy gevonnis is nie.

Warmbier moes soos ander buitelandse aangehoudenes ’n openbare erkenning van sy oortreding doen. Hy het ʼn bekentenis voorgelees wat glo vir hom geskryf is terwyl hy huilend om verskoning gevra en om sy vrylating gepleit het. Hy is ná ʼn uur lange verhoor gevonnis vir misdaad teen die regering.

Volgens berigte het die Noord-Koreaanse owerhede gesê Warmbier het voedselvergiftiging opgedoen kort nadat hy gevonnis is en dat hy toe in die koma verval het. Daar is glo ook ʼn slaappil aan hom gegee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Lucas ·

As jy wil steel, moet jy die gevolge dra. Diefstal is diefstal

Loekie la Grange ·

Vergewis jou van Noord-Korea se onmenslike ‘regstelsel’ voor jy so ‘n stelling maak. Die straf moet by die oortreding pas!

Reinhardt ·

15 Jaar tronkstraf vir n plakkaat, en dan die Vader alleen weet deur watter ander martelling hy moes gaan voor hy in n koma beland het. Nee wat Lucas, soos Loekie sê – Gaan vergewis jouself oor Noord-Korea.

Sê maar net ·

Die Noord-Koreaanse Owerhede kort ñ paar warm wakker-word klappe. Die arme kind was ñ student, dit was oujaars, hy het ñ oordeels-fout gemaak om iets te neem wat nie aan hom behoort het nie. Was dalk gekuier en het dit op die ingewing van die oomblik gedoen as ñ ou grappie (hy was ñ student for pete’s sake) Ek verdedig nie sy optrede nie, verkeerd bly verkeerd, maar seriously – 15 jaar tronkstraf en harde arbeid? Misdaad teen die regering???? Het hy ñ flipn bom geplant? Wat de falala? En dan sò op te einding? Ek hoop sy familie en die VSA maak vuur onder die etters, hulle wou hom obviously stil maak sodat hy nie kon vertel waar deur hulle hom werklik gesit het nie. Arme kind. Arme familie…. Gaan google ñ bietjie wat gaan als aan in Noord Korea en bly ver weg…..

snoefie ·

15 jaar harde arbeid vir n kinderagtige oortreding. wil suid Afrika nie plaasmoordebaars en verkragters noord Korea toe stuur vir vonnisoplegging nie?

Nettie ·

Sy warm bier het toe nou koud geraak ….. “Excuse the pun”, mense – sy van het my net opgeval.

Foeitog, ja, dat die arme kind nou so tot sy einde moes kom …. ‘n Bietjie Oujaars-stuitigheid, wat hom toe nou tronkstraf op die hals en uiteindelik die dood gehaal het. Ek dink ook die daad regverdig nie die straf nie; dit is ‘n bietjie té erg om sommer 15 jaar te kry net omdat jy staatseiendom gesteel het!

Miskien moet ons vir Zoompies, die Guptas en Nummawan se “clan” soontoe stuur …. dalk kan die Noord-Koreaanse strafstelsel SA ‘n bietjie help met gepaste straf vir Zuma-zombie met sy 783-klagtes van geldwassery, diefstal, verkragting, korrupsie ens.! Ek dink hulle sal hom summier teregstel as hy voet aan land sit. ‘n Mens mag seker maar droom, nè?

Dennis ·

Alhoewel ek nie saamstem met wat met hom gebeur het nie, dink ek die owerhede was erger met hom juis omdat dit nie vir die grap gedoen is nie maar teen betaling. Hy het dit gedoen vir n ander persoon gedoen en sy betaling was n tweedehandse motor en 250 000 dollar wat aan sy ouers sou gaan indien hy gevang sou word. Met ander woorde, hy het besef dat hy moontlik gevang kon word, so dit was defnitief nie n “prank” nie.

Asmain ·

Dit gaan my verstand te bowe wat mense gaan soek in lande wat duidelik nie jou kultuur of waardes erken of respekteer nie. Daar is soveel beter en veiliger plekke om Oujaar te vier!

Justice ·

Hy was `n student wat moontlik die banier as `n aandenking in sy kroeg wou hang. 15 Jaar harde arbeid is onvanpas vir die tipe van oortreding. In Suid Afrika is harde arbeid ongelukkig lynreg met `n misdadiger se menseregte – klink vir my asof harde arbeid (klippe kap) as straf in sommige gevalle hier kan werk.

anton ·

Noord Korea is maar net n haatlike land.
Een land wat van die aardbol gevee kan word!!!

ME ·

Asmain – ek stem met jou saam. …. sekerlik is daar baie mooier en lekkerder plekke om te besoek.
My innige simpatie met die ouers en almal wie vir hom lief was.

Asiaat ·

Vir my is die hele Asië eintlik ‘n haatlike plek. Ek het GEEN begeerte om soontoe te gaan nie. Daar is ander eerste wêreld lande om te gaan besoek. Bly weg uit daai vrot neste uit.

Reinhardt ·

Ek sal nie so vinnig die hele Asië sommer afskryf net omdat Noord-Korea korrup is nie. Kyk bietjie na Suid-Korea, Japan, Singapoer… eerstewêreld lande waarvan ons net kan droom.

Janine ·

Dis twak! Hy het ‘n banner gesteel, so what!? Ons almal was jonk en stupid. Dis nie die daad wat hier gestraf word nie, dis Noord-Korea wat bang is daardie banner beland in die verkeerde hande en die wêreld besef watse gemors en slawerny is in hul land aan die gang. Die arme oudjie, wonder wat het als met hom gebeur in aanhouding. Rus in vrede.

Viking ·

15 jaar dis erg, hier by ons kan jy iemand wat in ‘n toilet skuil aan flarde skiet vir net 6 jaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.