Jong vrou gevonnis ná kêrel se selfmoord

Michelle-Carter

Michelle Carter en haar regsverteenwoordiger. Foto: Matt West/The Boston Herald via AP, Pool

Michelle Carter (20), wat haar kêrel deur telefoonoproepe en teksboodskappe aangemoedig het om homself om die lewe te bring, is gevonnis.

Carter is in Junie aan onwillekeurige manslag skuldig bevind nadat sy haar kêrel, Conrad Roy III (18), in 2014 deur telefoonoproepe en teksboodskappe aangemoedig het om selfmoord te pleeg. Sy is Donderdag tot twee en ʼn half jaar tronkstraf gevonnis waarvan 15 maande opgeskort is.

Regter Lawrence Moniz het vroeër bevind Carter is verantwoordelik vir Roy se dood, omdat sy hom in ʼn situasie geplaas het wat gelei het tot sy selfmoord. Moniz het egter tydens vonnisoplegging gesê Carter hoef nie tronkstraf te begin uitdien voor al die appèlprosesse afgehandel is nie.

Tydens die verhoor het Moniz gesê die voorval is “ʼn tragedie vir twee families”. Voordat Moniz se besluit in die hof bekendgemaak is, het Roy se familielede emosionele verklarings afgelê. Roy se suster, Camdyn Roy, het gesê hy was haar “beste vriend” en “rolmodel” en dat haar broer se dood “altyd by haar sal spook”. Roy se pa, Conrad Roy jr., het ook gesê hy is “hartgebroke”. Roy se familie het die regter versoek om die maksimum vonnis van 20 jaar tronkstraf op te lê.

“Michelle Carter het my seun se swakhede uitgebuit en hom gebruik as ʼn pion in haar eie welstand,” het Roy jr. gesê. “Hoe kon sy so boos optree en my seun aanmoedig om sy lewe te beëindig? Waar is haar menslikheid? In watter wêreld is hierdie tipe gedrag aanvaarbaar?” het hy gevra.

“Ek glo sy moet baie ver weggehou word van die samelewing af,” het Roy se tannie, Kim Bozzi, in ʼn verklaring geskryf, volgens die Boston Herald. “Neem die kollig wat sy so desperaat na smag van haar af weg. Twintig jaar klink dalk oordadig, maar dit is steeds twintig meer as wat Conrad ooit sal hê.”

Carter se pa, David Carter, het egter versoek dat die hof berading as straf oplê en het vir toegeeflikheid vir sy “liefdevolle kind” gevra.

Carter se regsverteenwoordigers het haar uitgebeeld as ʼn tienermeisie wat gewroeg het met haar eie geestesgesondheidskwessies toe sy vir Roy aangemoedig het om selfmoord te pleeg.

“Sy sal vir die res van haar lewe met die nagevolge moet saamleef,” het haar prokureur, Joseph Cataldo, aan die hof gesê. Hy het bygevoeg dat Carter geen misdaadgeskiedenis het nie en dat sy berou getoon en verantwoordelikheid vir haar dade aanvaar het.

Regskenners sê die skuldigbevinding en vonnis kan implikasies hê, omdat howe sukkel om te bepaal hoe om bestaande wette toe te pas, aangesien tegnologiese veranderinge nou interaksie aanlyn laat plaasvind. In Carter se geval bepaal die uitspraak dat sy in Roy se oor gefluister het, “maak jouself dood, maak jouself dood”, het Laurie Levenson, ʼn professor in strafreg aan die Loyola-regsfakulteit in Los Angeles, gesê. Die uitspraak dui daarop dat dié woorde daartoe kan lei dat iemand sy eie lewe neem.

Roy (18) en Carter, wat in daardie stadium 17 jaar oud was, het in die dae en weke voor die tragedie in teksboodskappe oor die dood gesels, volgens hofdokumente. In een boodskap het Carter aan hom gesê: “Jy gaan uiteindelik in die hemel gelukkig wees. Geen pyn meer nie. Dis oukei om bang te wees, en dis normaal. Ek bedoel, jy gaan binnekort sterf.”

Levenson het gesê die regter stel nie ʼn regspresedent nie, maar dit stuur ʼn sterk boodskap “dat daar nuwe maniere is om ou misdade te pleeg”.

“Dit is een van die mees ekstreme sake wat ons nog ooit gesien het,” het Levenson in ʼn telefoniese onderhoud gesê. Sy het gesê die vraag ontstaan: “Wanneer verander ʼn geboelie in moord?”

Roy en Carter het mekaar in 2011 ontmoet en was in ʼn romantiese verhouding – grootliks aanlyn. Roy het ʼn geskiedenis gehad van depressie en het vantevore probeer om sy eie lewe te neem, maar sy gesin was vol hoop dat hy dit te bowe sal kom.

ʼn Paar weke voor Roy homself om die lewe gebring het, het hy in ʼn teksboodskap aan Carter geskryf: “Ons sal uiteindelik soos Romeo en Juliet wees.” “F** nee! Ons is nie besig om te sterf nie,” het sy reageer.

ʼn Paar dae voor sy dood, het Carter hom gemaan om hulp te kry. “Maar die psigiatriese hospitaal sal jou help. Ek weet jy dink nie dit sal nie, maar ek sê vir jou, as jy hulle ʼn kans gee, kan hulle jou lewe red,” het sy geskryf. “ʼn Deel van my wil hê jy moet iets probeer en onsuksesvol wees, net sodat jy hulp kan kry.”

Haar gesprekke het egter begin verander. Op 12 Julie 2014, die dag voor Roy dood aangetref is, het Carter geskryf: “So, ek neem aan jy gaan dit nie doen nie. Alles vir niks nie. Ek is verward, want jy was so gereed en vasbeslote.”

“Ek gaan uiteindelik,” het Roy reageer. “Ek weet eintlik nie waarvoor ek wag nie, maar ek het alles gereed.”

“Nee, jy is nie, Conrad. Gisteraand was dit. Jy hou aan om dit uit te stel en jy sê jy gaan dit doen, maar jy doen nooit iets nie. Dit gaan altyd só wees as jy nie optree nie,” het Carter gesê. “Jy maak dit net vir jouself moeiliker deur dit uit te stel. Jy moet dit net doen. As jy dit nie nou doen nie, gaan jy dit nooit doen nie.”

Carter is in 2015 aangekla en sy het appèl aangeteken. Die saak is na die staat se hoogste hof verwys. Die hof het verlede jaar beslis dat sy verhoor kan word vir haar vermeende rol in Roy se dood. In daardie uitspraak het die hof bevind dat Carter se “virtuele teenwoordigheid” ten tyde van die selfmoord en die “deurlopende druk” wat sy op Roy geplaas het, genoeg bewyse was vir ʼn aanklag van onwillekeurige manslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Eish ·

Skokkend! Hierdie berig behoort n ouderdoms beperking te hê. Die merrie kort net n n punt hoed en n besem!

Righard ·

As ons maar net ons president so ver kan kry. Dink ons almal moet vir hom smse begin stuur

Dankbaar ·

Righard, wat van eerder bid vir hom… dit is tog wat die Here vir ons voorskryf (1 Pet. 2:13-25, 1 Tim. 2:1-4, ens, ens.)

johan II ·

Word wakker “Dankbaar”…nie altyd n geleentheid soek om te preek nie..het jy n lisensie om te mag preek…kan nie wag v daardie wetgewing nie.

Ai ·

Ja Dankbaar, ek bid ook vir ons leiers maar ek bid dat die Here se wil geskied- watokal dit mag wees.

elize naude ·

Dit is skokkend hoe oppervlakkig heelwat suidafrikaners is…

Ashton ·

Ek weet ek gaan uitgeskel word vir hierdie plasing, maar moet dit tog sê: Dit klink vir my eerder of hierdie meisie nie geglo het hy gaan dit regtig doen nie. Sy het onverantwoordelik opgetree en dit het tot iemand se dood gelei. Dit beteken egter nie dat sy ooit enige intensie gehad om hom enige leed aan te doen nie.

Eish ·

Née, ons gaan jou nie uitskel nie. Net vir jou sê dis die gevolg van “nagging”

Ai ·

Wat sy gedoen het was ongelooflik harteloos maar mense, hierdie gaan ver rykende gevolge meebring. Die dag kom binnekort dat alles wat ons se ons in die tronk kan laat beland.

Kyk al klaar vir die kommentaar van Johan II- kan nie wag dat Christene toegesluit moet word vir die aanhaling van Bybel verse nie.

SkarrelKind ·

Ek dink nie enige iemand behoor toegesluit te word oor hulle uitlatings oor geloof nie, maar dis ook nie nodig dat dit gedurig aangehaal word nie. Wat het bid nou presies met hierdie artikel te make? Preek hoort in ‘n kerk. Hierdie is ‘n nuuslad.

Ai ·

Nuusblad met n Christelike raamwerk volgens MM. Logies gaan hier mense wees wat Christelike aanhalings uit die Bybel gaan maak. Nee preek hoort nie net on die kerk nie. Net omdat jy jou geloof erens verloor het is nie te se almal moet nou stilbly omdat dit vir jou ongemaklik is nie. Is jou regte belangriker as iemand anders sin? Toe nou nou nie.

CommonSense ·

Wat gaan aan met die mensdom. Nie eens ‘n laerskoolkind gaan sy vinger afsny as jy hom/haar aanraai om dit te doen nie. Uit die artikel kan mens duidelik aflei dat die man lankal reeds baie probleme gehad het en dat sy vriendin hom selfs probeer oorreed het om hulp te kry. Vanselfsprekend voel mens jammer oor die geweldige verlies maar ek reken ons is maar te geneig om die skuld vir ons eie tekortkominge op ander te plaas.

SkarrelKind ·

My 5c in die armbeurs: Mense wat regtig hulle lewe wil neem doen dit. Of iemand hulle aanmoedig of nie. Sonder aanmoediging neem dit net langer, en die stryd is erger. Hierdie wereld is net eenvoudig nie vir party mense nie. Hulle wil nie hier wees nie. Ek weet nie presies hoe ek hieroor voel nie. Haar motief is dalk nie net sleg nie. Ek dink mens het meer feite nodig om tot ‘n gevolgtrekking te kom. En dis ook elke mens se reg om te besluit of hulle hierdie lewe vir verlaat. Ten sypte van Godsdienstige teregwysing, bly dit ‘n persoonlike besluit.

Stan ·

Skarrelkind, dit wil voorkom asof jy ‘n gebrek aan empatie het. Die mens het ‘n sosiale verandwoordelikheid om ‘lewe’ te kies en as jy die nodige ego ontbreek om iemand positief wil help, verwys die persoon met geestesgesonheid uitdagings eerder na professionele hulp. Wat ‘euthanasia’ aanbetref is dit gebonde aan wetgewing en het geen mens die reg om dit as argument te gebruik nie

Lv ·

“Suggesties” is ‘n Psigologiese werklikheid. Dit word bv. in die advertensie wese gebruik om die publiek te oorreed om iets te koop, soms teen hulle sin.
Die Handwoordeboek van die Afrikaanse taal verklaar ” Suggereer” asvolg: Bepaalde voorstelle, gedagtes, DADE opdring. Ek sal graag wil weet wat sy “geswat” het.

Valerie ·

Liewe ou Michelle Carter. Haar musiek helde is seker “Nine Inch Nails” en “Rob Zombie.” Goeie, opbouende, en musiek wat jou laat goed voel (as jy ‘n liewe heksie is). Haar krokodil trane blyk so vals soos my derde arm te wees.

Frans C ·

Sy het hom van die wal af in die sloot gehelp,deur haar woorde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.