Jongste slagoffer van Ierse tragedie vyf jaar oud

(Foto: Burgemeester Derry Strabane/Twitter)

Die owerhede in Ierland het Sondag die name van die slagoffers wat verlede week in ʼn ontploffing by ʼn vulstasie dood is, bekend gemaak.

Onder die tien oorledenes, van wie drie kinders was, is die jongste slagoffer net vyf jaar oud.

Tydens ʼn nuuskonferensie het die Ierse owerhede bevestig dat die slagoffers in die voorval geïdentifiseer is as James O’Flaherty (48), Jessica Gallagher (24), Martin McGill (49), Hugh Kelly (59), Martina Martin (49), Catherine O’Donnell (39), haar 13-jarige seun James Monahan en ʼn 14-jarige meisie genaamd Leona Harper.

Shauna Flanagan Garwe (5) en haar pa, Robert Garwe (50), wat oorspronklik van Zimbabwe af is voordat hy na Ierland verhuis het, is ook onder die slagoffers.

Shauna en Robert was op die dag besig om ʼn verjaarsdagkoek vir haar ma te koop toe daar ʼn ontploffing by ʼn vulstasie in Creeslough, Donegal, was, berig Sky News.

Kelly het die pa en dogter ʼn rygeleentheid na die vulstasie gegee, maar in sy motor gebly toe die ontploffing plaasgevind het.

“Dit is ʼn tragedie,” het ʼn familievriend van die Garwes aan Mirror gesê.

“Sy het net winkel toe gegaan om iets lekkers vir haar ma te kry. Hugh het buite in sy voertuig gewag terwyl sy en haar pa ingegaan het en tog is hy ook in die ontploffing dood.”

Volgens die vriend is Shauna se ma, Áine, verpletter dat sy so skielik haar enigste kind en haar lewensmaat aan die dood moes afstaan.

Robert het twee ander kinders uit ʼn vorige huwelik en een van hulle was die afgelope naweek by ʼn nagwaak vir die slagoffers.

ʼn Man in sy 20’s is steeds in ʼn kritieke toestand in die hospitaal in Dublin, terwyl sewe ander mense in die Letterkenny Universiteitshospitaal behandel word. Hulle is tans in ʼn stabiele toestand, berig Sky News.

Die polisie het Saterdag gesê dat ʼn “tragiese ongeluk” vermoedelik die oorsaak van die ontploffing was.

Daar is intussen hulde gebring aan Leona. Die Letterkenny Rugbyklub het haar as ʼn “talentvolle rugbyspeler” en ʼn “belangrike lid van ons o.14-meisiespan” beskryf in ʼn plasing op hul Facebook-blad.

Leona was op die betrokke dag in die vulstasie se winkel om roomys te koop voordat sy na vriende sou gaan. Haar ma, Martin, is ook in die voorval dood.

Leona en James was albei leerlinge aan Mulroy College, asook ʼn aantal van diegene wat in die ontploffing beseer is.

Die skool se hoof, Fiona Temple, het gesê die skool se gemeenskap was “verpletter toe ons hoor van die tragedie en die noodlottige uitkoms vir ons twee pragtige leerlinge en ons dierbare ouers”.

“Ons gedagtes en gebede is in hierdie tyd met al die families en die Creeslough-gemeenskap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.