Die splinternuwe Spider-Man: No Way Home het tydens sy afgelope openingsnaweek ʼn allemintige $253 miljoen (sowat R4 miljard) by die loket ingeoes. Dit is Noord-Amerika se derde grootste fliekuitreiking van alle tye.
Volgens BoxOfficeMojo volg dié superheldfliek kort op die hakke van Avengers: Infinity War, wat ʼn aks meer verdien het met $258 miljoen (sowat R4 miljard). Avengers: Endgame het in 2019 die openingsrekords laat spat toe die fliek $357 miljoen (sowat R5,6 miljard) in sy openingsnaweek verdien het.
Fliekontleders meen Spider-Man: No Way Home kan moontlik die eerste fliek word wat miljarde dollar tydens die Covid-19-pandemie verdien. Hulle waarsku in dieselfde asem dat die rolprentbedryf nog besig is om te herstel en dalk nie gou weer ten volle aan die gang sal wees nie, veral te midde van vrese vir ʼn nuwe vlaag koronavirusinfeksies deur die Omikron-variant.
Die fliek is egter sterk op pad om $600 miljoen (sowat R9,5 miljard) oorsee te verdien, het die bedryfskenner Exhibitor Relations Sondag berig. Dit kom namate fliekteaters terugveg teen die terugslae van die afgelope paar maande.
“Dit is ’n ongelooflike opening,” het David A Gross, wat Franchise Entertainment Research bestuur, aan AFP gesê. Gross meen Spider-Man is besig om te ontplof, terwyl die meeste televisiereekse sukkel om hul momentum te behou.
Spider-Man se jongste aflewering is die Britse ster Tom Holland se derde solo-vertoning in die uiters gewilde rol, wat in vroeëre rolprente deur Tobey Maguire en Andrew Garfield gespeel is.
Die eerste Spider-Man-rolprent wat in 2002 uitgereik is, en met Maguire in die hoofrol, het rolprentgeskiedenis gemaak toe dit die eerste fliek geword het wat meer as $100 miljoen (sowat R1,5 miljard) in sy openingsnaweek verdien het.