Jongste verwikkelinge in Rusland-Oekraïne-konflik           

Oekraïnse soldate loop in die strate van Irpin, noord van Kiëf (Foto: Sergei SUPINSKY/AFP)

Russiese magte het Saterdag voortgestu na Kiëf en ook aanvalle in ander Oekraïense stede voortgesit.

Die lughawe en ’n oliedepot in die dorp Vasylkiv, sowat 40 km suid van Kiëf, is Saterdag in lugaanvalle vernietig. Die noordwestelike voorstede van die hoofstad het reeds dae van swaar bombardement verduur terwyl Russiese pantservoertuie op die noordoostelike rand vorder.

AFP-verslaggewers in Kiëf het Saterdag gesê daar was ’n dik, swart rookkolom wat uit die oostelike voorstede opgestyg het, maar daar is nog geen teken van grondmagte wat na die buitewyke beweeg nie. Dmitry Kuleba, Oekraïense minister van buitelandse sake, het gesê “die ergste humanitêre ramp op die planeet” staar die suidelike hawestad Marioepol in die gesig met meer as 1 500 burgerlikes wat in 12 dae dood is.

Die Verenigde Nasies raam dat 2,5 miljoen mense sedert die inval uit Oekraïne gevlug het, die meeste van hulle na Pole, in die ergste vlugtelingkrisis sedert die Tweede Wêreldoorlog.

Terwyl Rusland sy aanvalle uitbrei en samesprekings tussen Moskou en Kiëf skynbaar geen vordering toon nie, raak Wolodimir Zelenski se pleidooie dat Navo moet ingryp toenemend desperaat. Washington en sy EU-bondgenote het fondse en militêre hulp aan Oekraïne gestuur.

Pres. Joe Biden het egter weer Vrydag regstreekse optrede teen Rusland uitgesluit en gewaarsku dat dit tot ’n Derde Wêreldoorlog sou lei.

Rusland word ook steeds daarvan beskuldig dat hy burgerlikes aanval en oorlogsmisdade pleeg. In ’n video wat Saterdag vrygestel is, het Zelenski ’n beroep op Russiese moeders gedoen om te keer dat hul seuns oorlog toe gestuur word.

Russiese soldat neem beheer van ‘n vliegveld (Foto: Russiese weermag/AFP)

Zelenski het gesê meer as 12 000 Russiese troepe is reeds in die inval dood. Amerikaanse ramings stel die aantal Russiese sterftes op 2 000 tot 4 000, terwyl Moskou se enigste amptelike dodetal, wat verlede week aangekondig is, sê 498 Russiese troepe is dood.

Rusland het ook Vrydag begin om Instagram te blokkeer en ’n kriminele saak teen Meta aanhangig te maak nadat aangekondig is dat Facebook sy beleid rakende gewelddadige plasings verslap het en volgens Rusland plasings toelaat wat geweld teen Russiese magte versoek.

Poetin het Vrydag gesê daar was ’n paar “positiewe verwikkelinge” in gesprekke met Oekraïne en onderhandelinge vind “byna daagliks” plaas.

By die Verenigde Nasies het Westerse lande Rusland daarvan beskuldig dat hulle “wilde” samesweringsteorieë versprei nadat Moskou se gesant aan diplomate gesê het dat Amerika en Oekraïne navorsing gedoen het oor die gebruik van vlermuise om biologiese oorlogvoering te voer.

Die Amerikaanse gesant het gesê Rusland het die aansprake gemaak as deel van ’n doelbewuste poging tot wanvoorstelling om die weg te baan vir die gebruik van chemiese wapens van sy eie in Oekraïne.

Biden het gewaarsku dat Rusland ’n “ernstige prys” sal betaal as dit chemiese wapens gebruik – maar het bygevoeg: “Ons sal nie in ’n oorlog teen Rusland in Oekraïne betrokke raak nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.