Jou Twitter-blapse binnekort dalk gewysig

Jou Twitter-blapse kan dalk binnekort gewysig word. (Foto: Jeremy Bezanger/Unsplash)

Twitter het Dinsdag aangekondig dat hy binnekort met ʼn wysigingsfunksie sal begin eksperimenteer.

Dié nuus volg nadat die sosialemediareus se nuutste direksielid, miljarder Elon Musk, onlangs ʼn aanlyn peiling onder sy volgelinge oor die behoefte aan ʼn wysigingsknoppie gedoen het.

Byna 4,4 miljoen mense het op Musk, wat tans die wêreld se rykste man is, se peiling gereageer, met sowat 73% van hulle wat “ja” vir só ʼn funksie gesê het.

Twitter het Dinsdag aangekondig dat die eksentrieke entrepreneur by sy direksie sal aansluit nadat hy ʼn aandeel van 9,2% in die platform verkry het en sodoende die maatskappy se grootste enkele aandeelhouer geword het. Parag Agrawal, uitvoerende hoof van Twitter, sê dat hy daarna uitsien dat Musk binnekort “beduidende verbeterings aan Twitter sal aanbring”.

Twitter het ook op sy eie amptelike profiel geskerts dat hy reeds sedert verlede jaar aan só ʼn funksie werk en dat hul nie dié idee van ʼn peiling gekry het nie.

Volgens Jay Sullivan, Twitter se hoof van verbruikersprodukte, is “redigeer” al vir baie jare die mees gevraagde Twitter-funksie omdat mense veral soms beledigende tik- of spelfoute wil wysig. Hy het egter bygevoeg dat die platform daarvan bewus is dat só ʼn funksie maklik misbruik kan word en daarom verskeie opinies in ag sal neem voordat die funksie vir alle gebruikers aangebied word.

Elon Musk. (Foto: Jim Watson/AFP)

Tans gaan die wysigingsproefloop eers net op Twitter Blue, ʼn maandelikse intekeningdiens wat verbruikers toegang tot meer funksies en eksklusiewe inhoud op Twitter bied, aangebied word.

Nie almal is egter opgewonde oor dié nuwe moontlike funksie nie.

Jack Dorsey, medestigter en voormalige uitvoerende hoof van Twitter, is lank reeds gekant teen ʼn wysigingsknoppie op grond daarvan dat gebruikers ʼn twiet wat reeds wyd gedeel is sal kan verander en sodoende die betekenis of konteks daarvan ook verander.

Lewis Wiltshire, Twitter se voormalige sportshoof, skryf op dié einste platform dat die bekendstelling van ʼn wysigingsknoppie ʼn  “fout” sal wees gegewe die platform se invloed in wêreldsake. “As hulle dit sou doen, sou daar binne weke ʼn skandaal wees waar ʼn subtiele, maar fundamentele verandering aan ʼn twiet aangebring is nadat dit duisende ‘likes’ gekry het. Op hierdie platform, meer as enige ander, het dit die potensiaal om die gang van globale sake te verander. Nou sou nie die tyd wees nie om so verandering te implementeer nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.