Jurie oorweeg Ghislaine Maxwell se lot

Ghislaine Maxwell en Jeffrey Epstein. (Foto: Johannes Eisele/AFP)

ʼn Jurie in New York het Maandag begin om die lot van die Britse sosiale vlinder Ghislaine Maxwell te oorweeg. Maxwell het glo jong meisies vir Jeffrey Epstein gewerf om seksueel misbruik te word.

Maxwell word deur lewenslange gevangenskap in die gesig gestaar indien sy op al die aanklagte teen haar skuldig bevind word. Indien die jurie nie ʼn eenparige besluit hieroor kan neem nie, sal die saak egter van die rol geskrap word.

Altesame 12 jurielede het Maandag reeds ure lank oor die 59-jarige dogter van die koerantmagnaat Robert Maxwell se lot beraadslaag ná ure se slotbetoë en instruksies van regter Alison Nathan oor hoe hulle die aanklagte van sekshandel moet oorweeg.

Die jurie sal na verwagting Dinsdagoggend weer vergader, maar dit is onduidelik hoe lank dit hulle sal neem om ʼn uitspraak te bereik.

Die jurielede moet tot ʼn eenparige besluit oor die aanklagte teen Maxwell kom, maar as hulle nie ooreen kan kom nie, kan die regter die verhoor nietig verklaar. Maxwell sal dan nie beskuldig bevind word nie, maar ook nie vrygespreek word van die aanklagte teen haar nie. Die saak sal wel dan op ʼn latere stadium herverhoor kan word.

Tydens die slotbetoë verlede week het die staatsaanklaers gesê Maxwell is ʼn “gesofistikeerde roofdier wat presies geweet het wat sy doen” toe sy ʼn aantal jong meisies tussen 1994 en 2004 aan Epstein verskaf het.

“Dit is tyd om haar aanspreeklik te hou vir haar dade,” het die staatsaanklaer Alison Moe gesê.

Maxwell ontken skuld op al ses aanklagte wat mensehandel van ʼn minderjarige insluit. Sy kan tot 80 jaar tronkstraf opgelê word as sy op al die aanklagte skuldig bevind word.

Maxwell se regspan het egter tydens sy eie slotbetoë die aanklagte teengestaan ​​en aangevoer dat daar ʼn “gebrek aan bewyse” is om haar skuldig te bevind.

Epstein, die 66-jarige miljardêr en finansierder, het homself twee jaar gelede om die lewe gebring terwyl hy op sy eie seksmisdaadverhoor gewag het.

Moe het gesê Maxwell was “die sleutel” tot Epstein se plan om jong meisies na sy huis te lok om hom masserings te gee terwyl hy naak is, waartydens hy ook hulle dan seksueel sou misbruik.

“Hulle was vennote in die misdaad,” het sy bygevoeg.

Moe het bankrekords aangehaal wat wys dat Maxwell tussen 1999 en 2007 sowat $30 miljoen (nou meer as R470 miljoen) van Epstein ontvang het. Die rekords dien glo as bewys dat haar deelname in die misdade deur geld gemotiveer was.

Maxwell se betrokkenheid by die beweerde misdade hou verband met vier vroue, waarvan twee sê hulle was net 14 en 15 jaar oud toe hulle seksueel mishandel is. Die vroue se name word weerhou.

Een van hierdie vroue het tydens Maxwell se verhoor uiteengesit hoe sy haar by ʼn kamp gewerf het en haar “spesiaal” laat voel het. Maxwell het haar bevriend en glo oorreed om seksuele ontmoetings met Epstein te hê, wat naderhand roetine geword het. Volgens die getuie was Maxwell soms ook by dié geleenthede teenwoordig.

ʼn Ander vrou het gesê sy is gewoonlik $300 betaal ná elke seksuele ontmoeting met Epstein, en soms het Maxwell self die geld aan haar oorhandig.

ʼn Derde beweerde slagoffer, nou 42 jaar oud, sê Maxwell het by geleentheid haar borste gestreel by die New Mexico-boerdery wat deur Epstein besit word toe sy net ʼn tiener was.

Onskuldig tot skuldig bewys

Laura Menninger, ter verdediging van Maxwell, het egter die vroue se vermoë om gebeure van 25 jaar gelede te onthou bevraagteken en hulle daarvan beskuldig dat hulle probeer om voordeel te trek uit uitbetalings uit Epstein se boedel.

Hulle het “almal hul stories verander toe die Epstein-vergoedingsfonds begin is,” het Menninger aan die hof gesê.

Die regspan het die sielkundige Elizabeth Loftus, ʼn kenner op die gebied van vals herinneringe, voor die hof laat getuig om die beweerde slagoffers se herinneringe van gebeurtenisse te ondersoek. Dit terwyl die verdediging aangevoer het dat Maxwell nou as die skuldige voorgestel word nadat Epstein die gereg ontduik het met sy selfmoord.

“Daar is geen bewyse dat Ghislaine Maxwell enige van die vier beweerde slagoffers gewerf het met die doel dat hulle seksueel misbruik word nie,” het Menninger gesê tydens haar versoek dat Maxwell op alle aanklagte vrygespreek moet word.

Maxwell het intussen geweier om voor die hof te getuig, maar het wel Vrydag ʼn kort verklaring teenoor die regter gemaak.

“U edele, die staat het nie sy saak bo alle redelike twyfel bewys nie, so dit is dus nie nodig dat ek getuig nie,” het sy gesê.

Maxwell se hoëprofielverhoor sou na verwagting tot Januarie duur, maar die moontlikheid bestaan nou dat sy haar lot voor Kersdag, en haar 60ste verjaardag, sal aanhoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.