Juwele van Napoleon se Josephine vir miljoene opgeveil

Twee kopstukke van Josephine Bonaparte is Dinsdag vir miljoene rande opgeveil (Foto: Daniel Leal, AFP)

ʼn Paar eeue oue kopstukke wat met juwele bedek is en wat vermoedelik aan die Franse keiserin Josephine Bonaparte behoort het, is Dinsdag op ʼn veiling in Londen vir byna £600 000 (R12,7 miljoen) verkoop.

Die twee tiaras – aangebied uit ʼn private Britse versameling wat minstens 150 jaar oud is – is vermoedelik vroeg in die negentiende eeu aan Josephine deur Napoleon Bonaparte se suster, Caroline, oorhandig.

Albei kopstukke, elk deel van ʼn parure – ʼn stel bypassende juweliersware wat ontwerp is om saam te dra – is geset met edelstene wat met klassieke koppe gegraveer is, waarvan verskeie moontlik antiek is.

Die mees versierde een van die duo – bestaande uit karneool, emalje en goud – is vir £450 600 (R9,6 miljoen) opgeveil, terwyl die ander een vir £126 000 (R2,6 miljoen) verkoop is.

Volgens die veilinghuis Sotheby’s vertoon dié juwele die fynste delikate werk deur die beste Franse werkswinkels. “Vandag is daar skaars vergelykbare stukke in die wêreld,” sê Kristian Spofforth van Sotheby’s.

Josephine Bonaparte is waarskynlik net die gegraveerde edelstene gegee, wat volgens Sotheby’s ʼn moontlike kombinasie was van Romeinse voorbeelde wat van 100 v.C. dateer, asook meer kontemporêre Italiaanse gravures.

Die afslaers meen die juwele is omstreeks in 1808 in die Franse hoofstad in die neo-klassieke styl vir haar gemonteer, met verwysing na merke op die krone wat na Parys en sy beroemde goudsmede van daardie tyd verwys.

Daar is geglo dat die juwele hul onderskeie uitgebeelde eienskappe, soos heldhaftigheid, getrouheid en liefde, aan die draer toeken, en dít alles terwyl hulle as’t ware ʼn spoor in die modewêreld van die dag gebaan het.

“Deur die eerste te wees om hierdie kamees en intaglio’s (ingesnede figure) in haar rok in te sluit, en dit saam met pêrels en diamante te dra, het sy ʼn heel nuwe mode geskep wat Parys en die wêreld oorspoel het, gegrond op neo-klassieke vorms,” verduidelik Spofforth.

Geen besonderhede oor die identiteit van die kopers is in hierdie stadium bekend nie.

Sotheby’s het gesê die tiaras is moontlik deur die Britse grondeienaar, kunsversamelaar en politikus Edward Lascelles van Josephine self of haar landgoed verkry, en toe aan sy nageslag oorgedra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Shakespeare ·

Super ryk mense se verstand sit op ‘n plek wat ek nie hier mag noem nie.

Cherokee ·

So iets word gekoop vir spekulasie waarde. Jy dink dus ‘n belegging is verkeerd, want dít is immers wat die koop daarvan is.

Anel ·

Wow. Dit is pragtig. En dat dit so mooi bewaar is! Hier sou so iets lankal opgesmelt gewees het!

Frederik C ·

Ons een burgemeester-kader se verlore ketting is dubbel dit werd.

annie ·

Wie is die geheime eienaar van die juwele? Iets is baie verdag. Waarom is dit nie in museums nie? Ou skelms se nasate speel nou tussen die $€£ uit misdade lank vergete?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.