‘Jy is my seun’; Sydney-biskop vergewe aanvaller

Polisielint buite die kerk in Sydney waar die aanval plaasgevind het. (Foto: David Gray/AFP)

Mar Mari Emmanuel, biskop van Christ the Good Shepherd Church in Wakeley in Sydney, Australië, het Donderdag gesê hy is op die herstelpad en dat hy sy aanvaller vergewe. Emmanuel is die afgelope week tydens ʼn diens wat regstreeks gestroom is deur ʼn tienerseun met ʼn mes aangeval.

“Jy is my seun,” het Emmanuel gesê nadat die 16-jarige verdagte hom Maandag in die kop en bors gesteek terwyl hy besig was om ʼn preek te lewer.

“Dit gaan goed met my, ek herstel baie vinnig,” het hy gesê.

Die omgewing is die middelpunt van Sydney se klein Christelik-Assiriese gemeenskap, van wie baie van vervolging en oorlog in Irak en Sirië gevlug het.

Die kerk het byna 200 000 aanlyn volgelinge en die biskop is dikwels in die pekel, onder meer oor sy  kritiek op Covid-19-entstowwe, pandemie-inperkings en Islam.

“Daar is geen rede tot kommer nie,” het die biskop Donderdag in ʼn YouTube-video gesê.

“Ek vergewe wie ook al hierdie daad gepleeg het en ek sê vir hom, ‘Jy is my seun, ek het jou lief en ek sal altyd vir jou bid. En wie jou ook al gestuur het om dit te doen, ek vergewe hulle ook’.”

Die verdagte is ná die aanval na ʼn Sydney-hospitaal geneem.

Familie geskok

Die biskop het vir kalmte gepleit nadat woedende gemeentelede ná die voorval op die kerk toegesak het op soek na die aanvaller. Hulle het met die polisie slaags geraak en klippe en ander voorwerpe na beamptes geslinger.

“Julle moet altyd kalm bly,” het die biskop gesê.

“Ons moet ook altyd wetsgehoorsame burgers wees. Ons moet by die polisie se bepalings hou, of dit nou op staat- of federale vlak is,” het hy gesê.

“Ons moet nooit vergeet dat ons baie geseënd is om Aussies te wees nie, maar bowenal is ons Christene en ons moet so optree.”

ʼn Dokter in die weste van Sydney wat in kontak is met die jong vermeende aanvaller se familie, het aan AFP gesê hulle is in “skok” en “ongeloof oor die verskriklike daad wat hul seun gepleeg het”.

Die algemene praktisyn, Jamal Rifi, het gesê die familie was ook ontsenu oor hoe vinnig die gebeurtenis as ʼn daad van “terreur” bestempel is, sonder om eers met die seun of sy familie te praat.

Die seun se ma het aan Rifi gesê haar seun het woede- en geestesgesondheidsprobleme.

Sentrum waar ses sterf heropen

Intussen het ʼn winkelsentrum in Sydney waar ses mense vroeër in ʼn mesaanval dood is, Donderdag sy deure heropen sodat mense daar hulde aan die slagoffers kan bring.

Australiese eerste minister Anthony Albanese (middel), Nieu-Suid-Wallis-premier Chris Minns (vierde van regs) en federale lid van die parlement Allegra Spender (tweede van links) lê kranse neer saam met ander beamptes buit die Westfield Bondi Junction-winkelsentrum (14 April 2024) (Foto: David Gray/AFP)

Winkels in die Westfield-sentrum in Bondi Junction sal eers Vrydag weer hul deure oopmaak, byna ʼn week nadat ʼn 40-jarige man ses mense by die sentrum met ʼn mes om die lewe gebring het.

Donderdag se heropening bied inwoners die geleentheid om oor die verlies te treur en die voorval te begin verwerk.

Dit is ook ʼn geleentheid om samehorigheid en meegevoel te betuig en skoon te begin ná ʼn besonder moeilike tyd vir die stad, het Chris Minns, premier van Nieu-Suid-Wallis, gesê.

Dit is volgens Minns die “eerste stap na genesing”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ronél ·

Die is nou ‘n opregte volgeling van die Here Jesus Christus-ek skiet ver tekort.

Bolandse Nooi ·

“Haar seun het woede- en geestesgesondheidsprobleme” … Wel, HOU DAN JOU SEUN WEG VAN DIE NORMALE, AANGEPASTE, OPGEVOEDE WÊRELD DAAR BUITE, mevrou!!! Laat hom sertifiseer en sit hom in ‘n sanatorium, waar hy hoort!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.