Kabelkar-ongeluk: Dalk lankal met noodrem gepeuter

Italiaanse nooddienste by die wrak van die kabelkar. (Foto: Vigili del Fuoco / AFP)

Aanklaers wat die ondersoek na die noodlottige kabelkar-ongeluk in Italië lei, het Woensdag jare oue beeldmateriaal bestudeer wat moontlik kan bewys dat daar op lang termyn met die noodrem gepeuter is.

Die voorval het Sondag in die vakansiedorp Stresa in die noorde van Italië plaasgevind. Altesaam 14 mense is dood en ’n vyfjarige seuntjie veg tans om sy lewe in ’n hospitaal.

Maroela Media het vroeër berig drie werknemers wat met die kabelkar gewerk het, is sedert die ongeluk in hegtenis geneem. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle met die noodrem gepeuter het.

Volgens die polisie was daar fout met die kabelkar en is die werknemers ontbied om die noodrem te aktiveer. Hulle het die noodrem egter deaktiveer met die gebruik van ’n spesiale “vurk”.

Beeldmateriaal wat tussen 2014 en 2018 deur Michael Meier, ’n Switserse kabelkar-entoesias wat etlike jare in die bedryf gewerk het, verfilm is, is Dinsdagaand deur die Duitse kanaal ZDF uitgesaai. Dié het die beeldmateriaal aan die owerhede oorhandig.

“Ek het ná die ongeluk na al my beeldmateriaal gaan kyk en opgemerk dat die “vurk” waaroor berig word al in 2014 gebruik is – met insittendes in die kabelkar. Die vurk is duidelik in die video’s sigbaar,” sê Meier.

Aanklaers het bevestig dat hulle die beeldmateriaal ontvang het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Diline

Dis tragies dat sulke onverskillige optrede nou die dood van soveel onskuldige mense moes eis. Die persone wat verantwoordelik is hiervoor moet boet vir hulle dade.