Kaboel-ontploffing: Dodetal styg skerp

Ashraf Ghani. Foto: via AP

Die dodetal in Woensdag se kragtige bomontploffing in die Afgaanse hoofstad, Kaboel, het skerp gestyg.

Volgens plaaslike media, wat die ministerie van openbare gesondheid aanhaal, staan die dodetal tans op minstens 90 mense met nagenoeg 400 wat beseer is. Daar is aanvanklik berig 50 mense is dood en 150 beseer.

Ashraf Ghani, Afganistan se president, het die bomaanval veroordeel en as ʼn misdaad teen die mensdom beskryf.

“Die president veroordeel die lafhartige aanval in die heilige maand van Ramadan wat onskuldige inwoners geteiken het,” het die presidensie in ʼn verklaring gesê.

Hy het ʼn beroep op die internasionale gemeenskap, veral die Moslem-meerderheid, gedoen om druk op diegene te plaas wat terreurgroepe ondersteun.

Volgens voorlopige inligting van die land se ministerie van binnelandse sake is die massiewe bom in ʼn tenkwa geplant wat gebruik word om water te vervoer.

Die ontploffing het in die middel van die hoofstad plaasgevind, in ʼn gebied waar verskeie ambassades, waaronder die Duitse ambassade, geleë is.

Geen terreurgroep het tot dusver verantwoordelikheid vir die voorval geneem nie.

Minstens 90 mense is dood en sowat 400 beseer in ’n selfmoordbomaanval in Kaboel, Afghanistan. (Xinhua/Rahmat Alizadah)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.