Kalifornië-brande eis lewe van vrou

Brandbestryders spook om vlamme in Ventura, Kalifornië te blus (5 Desember 2017). Foto: Ryan Cullom/Ventura County Fire Department via AP

Die eerste sterfgeval in die verwoestende brande wat sedert Dinsdag in die suide van Kalifornië in die VSA woed, is Saterdag bevestig.

CNN berig die verkoolde liggaam van ʼn vrou is Saterdag in ʼn motor langs ʼn ontruimingsroete aangetref.

Volgens polisieowerhede was die vrou, wat intussen geïdentifiseer is as Virginia Pesola (70), glo tydens die massa-ontruimings in ʼn botsing betrokke. Die oorsaak van haar dood is volgens ʼn nadoodse verslag inwendinge beserings as gevolg van die botsing asook rookinaseming.

Ongeveer 200 000 mense moes sedert die begin van die week noodgedwonge uit hul huise vlug. Gevaarlike toestande vir brande word nog tot Sondag voorspel.

ʼn Huis word deur vlamme verswelg in Ventura, Kalifornië (5 Desember 2017). Foto: AP Photo/Jae C. Hong

Die vlamme het reeds honderde huise verwoes en ʼn nuwe brand het intussen noord van San Diego ontstaan. Volgens owerhede woed die vier grootste brande van Los Angeles al langs die kus af tot by Santa Barbara waar die streek se berugte Santa Ana-winde tot orkaansterkte kan bereik.

Die gesamentlike skooldistrik in Los Angeles, die land se tweede grootste skooldistrik met meer as 640 000 leerders, het gesê minstens 265 van die byna 1 100 skole moes gesluit word. Die University of California Santa Barbara het ook klasse gekanselleer.

Todd Derum, bevelvoerder van Cal Fire wat sedert Dinsdag die brande bestry, sê brandspanne het vordering gemaak, maar dat dié vordering beperk is tot die areas waar dit veilig is om te vlieg.

Wind versterk vlamme van ʼn veldbrand naby ʼn huis in Ventura, Kalifornië (5 Desember 2017). Foto: AP Photo/Jae Hong

Meer as 2 600 brandbestryders van tot Portland, Oregon en Nevada bestry tans die Thomas-brand noordwes van Los Angeles wat reeds oor 160 000 ha strek en 439 geboue verwoes het. Noord van San Diego het nog ʼn brand, wat die Lilac-brand gedoop is, oor meer as 1 000 ha versprei, 20 geboue verwoes en tot ontruimings en padsluitings gelei.

Maroela Media het Woensdag berig twee mense het brandwonde opgedoen, van wie een in ʼn kritiek toestand, en tienduisende moes die gebied verlaat toe hewige brande Dinsdag in die suide van Kalifornië in die VSA voortgewoed het.

Die eerste brand het Dinsdagmiddag in San Bernardino, oos van Los Angeles, ontstaan en is deur sterk en wisselvallige winde aangevuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johanna Botha ·

En vandag is daar net 52 mensev in SA vermoor ! Wat n kontras !

Jankees ·

The Santa Ana winds (devil wind) all week long about 40 mph. Not “orkaan sterkte” at all. Only if a windspeed is above 74 mph.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.