Kalifornië-brande: Uil skuil midde-in vlug in helikopter

Uil in die helikopter (Foto: Dan Alpiner/Sky Aviation)

ʼn Helikoptervlieënier van Kalifornië was verbaas toe ʼn uil in sy helikopter ingevlieg het terwyl hy water gestort het tydens verwoestende veldbrande in Fresno en Madera.

Dan Alpiner van Sky Aviation was besig met brandbestryding toe die voël by sy helikopter ingevlieg en kalm by die venster bly sit het, berig ABC News.

Sky Aviation het gesê die voorval is “ongehoord”. Die voorval het Maandag plaasgevind.

Alpiner was besorg dat die uil in die kajuit sou begin rondvlieg, maar hy het net daar bly sit terwyl hulle water gestort het. “Dit is ʼn onverklaarbare en wonderbaarlike wonderwerk om hom vir verskeie waterstortings by mens te hê, en toe het hy net weer weggevlieg soos wat hy opgedaag het – veilig en sonder enige aankondiging,” het hy gesê.

ʼn Foto van die uil in die helikopter word wyd op Facebook gedeel. “Dis vreemd om ʼn uil in ʼn vliegtuig te hê. Dis ongehoord dat hy invlieg terwyl die helikopter midde-in sy vlug is,” lui die byskrif.

“As daar nie ʼn foto was nie, twyfel ek of enigiemand dit sou glo,” het een persoon in die kommentaar bygevoeg. “Wat ʼn unieke voorval.”

“Die bemanningslede op dié helikopter is baie geseënd. Hy het net ʼn draai kom maak om dankie te sê en hulle ʼn veilige rit toe te wens,” sê ʼn ander.

Teen Saterdag het die Creek Fire reeds meer as 870 km² in Madera en Fresno in Kalifornië verwoes. Minstens 23 persone is beseer en meer as 900 strukture is beskadig, aldus Cal Fire.

Bron: Facebook

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sonia ·

Goeie nuus vir ‘n verandering! Wonderwerke geskied beslis nog steeds!

Karlahari ·

Wat n voorreg.
Natuur se dankie aan mense wat hulle lewens waag.
Geseënd is julle.

Maggies ·

Darm sowaar ‘n mooi storie. Gee mens weer moed om aan te gaan.

Cherokee ·

“Dis vreemd om ʼn uil in ʼn vliegtuig te hê…” Beslis vreemd.
Ek het ‘n jakkals in ‘n vliegtuig gehad, maar toe ek my vrou daaraan herinner, sê sy “maar hy het nie ingevlieg nie”.

RS ·

Dit is omdat hy seker moeg gevlieg is. Geen ander plek om te skuil van die hitte nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.