Kalifornië-veldbrande: Miljoene hektaar reeds in puin gelê

Rook in Boulder Creek na meeste vlamme geblus is (Foto: Marcio Jose Sanche, AP)

Meer as 1,6 miljoen hektaar is reeds in puin gelê weens die grootskaalse wegholveldbrande wat sowat twee weke gelede in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië begin woed het. Koeler weer en winde wat effens gaan lê het, het brandbestryders gehelp om die brande onder beheer te bring.

Daniel Berlant, woordvoerder van die Cal Fire-brandweerdienste, het op Twitter gesê hoewel brandbestryders oor die algemeen goeie vordering maak, lê die ergste dalk nog voor.

“Ons betree nou eers die piek van die veldbrandseisoen. Hierdie jaar is veral droog,” sê Berlant. “Daar kan nog minstens twee of drie veldbrande in die staat verwag word.”

‘n 67-jarige afgetrede onderwyser staan en kyk na sy huis wat deur die brand verwoes is (Foto: Aron Ranen, AP)

Luidens ’n berig in The Mercury News is die aantal hektaar wat vanjaar reeds gebrand het, die tweede meeste in die geskiedenis. Nagenoeg 1,97 miljoen hektaar is in 2018 in puin gelê.

Luidens ’n CNN-berig het meer as 15 800 brandbestryders die afgelope twee weke op meer as 650 wegholveldbrande oor die staat heen gereageer. Die brande is deur weerlig tydens donderstorms veroorsaak, waar meer as 12 000 weerligstrale glo dié gebied getref het. Hierdie donderstorms volg na die deelstaat vir amper vyf jaar reeds onder geweldige droogte en hittegolwe gebuk gegaan het.

Brande het onder meer in Sonoma, San Mateo, Napa, Butte, Nevada en Monterey gewoed. Die San Francisco-baai en sy bekende wynlande word ook erg deur die brande geraak.

Meer as 15 000 brandbestryders het al die afgelope twee weke ingespring om te help om die brande onder beheer te bring (Foto: Shmuel Thaler, AP)

The Guardian het berig ’n noodtoestand is op 18 Augustus vir die deelstaat aangekondig. Tot dusver het sewe mense gesterf  en meer as 2 000 geboue is vernietig.

Volgens die berig van The Mercury Live het die groot aantal dooie bosse, bome en ander plantegroei weens die droogte daartoe bygedra dat brande vinniger versprei het.

Derduisende inwoners in Noord-Kalifornië was genoop om verlede week Dinsdag hul huise te ontruim. Volgens USA Today het dik rookwolke inwoners van Noord- en Sentraal-Kalifornië bedreig, wat verdere ontruimings tot gevolg gehad het. Ontruimingsbevele is al in sekere gebiede, soos Sonoma County en Napa, opgehef en sowat 35 000 mense kon weer terugkeer huis toe.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet ·

Net om mense te herinner wat die Amerikaanse President gesê het: “Climate change is a Chinese hoax!”.

Sjoe, die Tjinese vat dit nogal vêr!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.