Kaliforniese skieter en ma het gereeld aggressief gestry

Colleen Long, ma van David Long, wat glo 11 mense in ’n kroeg doodgeskiet, verlaat Donderdag haar huis waar hy saam met haar gewoon het. Foto: AP Photo via ANA

Ian David Long het sy grootmenslewe begin deur by die vlootsoldate aan te sluit en te trou. Jare ná sy egskeiding en eervolle ontslag, en maande nadat ʼn geskree ʼn geestesgesondheidskenner na sy huis laat kom het, het Long 12 mense in ʼn country‑musiekkroeg naby Los Angeles afgemaai.

Die 28-jarige was ʼn oudkanonnier wat homself blykbaar om die lewe gebring het nadat hy Woensdagnag die aanval uitgevoer het in Thousand Oaks, ʼn rustige voorstad waar hy saam met sy ma gewoon het.

Bure het Donderdag gesê hulle het af en toe luide, aggressiewe woordewisselings tussen dié twee gehoor. Die owerheid sê beamptes het die plaasagtige huis net een keer, in April, besoek nadat van die bure gekla het oor ʼn geskree en geluide soos iets wat breek.

Beamptes het gesê Long het “effens irrasioneel” voorgekom en ʼn geestesgesondheidskenner ontbied. Die spesialis het Long geassesseer en tot die gevolgtrekking gekom hy kon nie teen sy wil vir psigiatriese waarneming opgeneem word nie.

Die kenner was bekommerd Long kon aan posttraumatiese stressteuring ly weens sy militêre diens. “Duidelik was daar iets in sy kop aan die gang wat hom tot so iets [die skietery] gedryf het,” meen Ventura County se sheriff, Geoff Dean.

Een van die bure sê hy het die owerheid sowat ses maande gelede gebel tot hy ʼn harde gekap en geskree in Long se huis gehoor het. “Ek was bekommerd, want ek het geweet hy was ʼn oudsoldaat,” het die buurman, Tom Hanson, Donderdag gesê.

Hy beskryf sy oorlede buurman as ʼn introvert en sê die slagting het hom stomgeslaan.

Long se enigste ander kontak met die owerheid was ná ʼn verkeersbotsing en nadat hy glo die slagoffer van ʼn gewelddadige onderonsie in ʼn ander kroeg in Thousand Oaks was.

Long het op 18 by die vlootsoldate aangesluit en is in Junie 2009 op 19 in Honolulu getroud. Hy was vyf jaar lank ʼn vlootsoldaat en is eervol ontslaan met die rang van korporaal.

Tydens sy diens het sy huwelik verbrokkel. Hy en sy vrou is in Junie 2011 uitmekaar terwyl hy sewe maande lank in Afganistan diens gedoen het. Twee maande nadat hulle in Mei 2013 geskei is, het hy die weermag verlaat.

Later het hy ingeskryf aan die Universiteit van die Staat Kalifornië, waar hy tot 2016 studeer het. Meer onlangs het hy in die huis gewoon waar die bure sê hulle gereeld ʼn bakleiery kon hoor, veral in die afgelope jaar.

Enkele foto’s van die Longs verskyn in die sosiale media waar hulle op die oog af gelukkig is. Sy ma, Colleen, het foto’s van haar seun in sy uniform in 2010 en 2011 geplaas.

Die owerheid kon nog nie vasstel wat Long daartoe gedryf het om 11 mense en toe homself om die lewe te bring nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lientjie ·

Hulle was die jare geskei nie net 5 jaar! Ek is al 32 jaar geskei dit is jare.

? ·

Ja nee wat het dit nou met die hele storie te doen Lientjie?

Sterkte aan die familie!

Verduideliking ·

Daar is n groot verskil tussen 5 en 32 jaar.5 Jaar is nie “jare” nie. Jare – is in die spreektaal n laaaaaaang tydperk. 5 Jaar lank tel dus nie onder – jare – in hierdie geval nie.

Hendrik ·

Hierdie is net nog n tragiese voorbeeld van hoe onvoldoende die VSA se vuurwapenwetgewing is. Waarom is hierdie man toegelaat om vuurwapens in sy besit te hê? Nou sit 12 gesinne in rou terwille van sy second ammendment reg …

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.