Kamele uit kompetisie geskors oor botoks

Argieffoto (Foto: mariefrance, Pixabay)

Die organiseerders van ʼn bekende kameelskoonheidskompetisie in Saoedi-Arabië is verstom dat sowat 43 kamele gediskwalifiseer is omdat hulle botoks-inspuitings en ander kosmetiese vullers gekry het.

Dit was die grootste aantal diskwalifikasies sedert die skoonheidskompetisie ses jaar gelede begin het. In 2018 is meer as ʼn dosyn kamele weens soortgelyke redes uit die kompetisie geskors.

Die King Abdulaziz-kameelfees is ʼn 40 dae lange fees wat in die woestyn noordoos van die hoofstad, Riaad, aangebied word.

Kameeltelers van oor die hele land word na dié geleentheid gelok om met hul kamele tydens die kompetisie te pronk. Prysgeld van tot $66 miljoen (sowat R1 miljard) word vir die wenners aangebied.

Organiseerders het die afgelope paar jaar kosmetiese vullers verbied omdat hulle dit verkies dat die kamele in hul ware vorm en ras deelneem. Hulle meen kosmetiese vullers is ook ʼn vorm van dieremishandeling.

Die kosmetiese vullers word aangewend in ʼn poging om die kamele se lippe meer te laat hang en hul hobbels meer te laat bult. Dit wek gewoonlik ʼn goeie indruk onder die beoordelaars.

Kosmetiese chirurgie word gewoonlik onthul wanneer die kamele fisieke en kliniese ondersoeke, soos X-strale, ondergaan.

Volgens die organiseerders staar stewige boetes die oortreders in die gesig. Boonop word hulle verbied om aan enige toekomstige kompetisies deel te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hendrik

Da kie tog, roei alle oneerlikheid uit. Ek het self hierdie bedrog op bulveilings beleef.

Grassie

Ons nasie is nie veel beter as daardie klomp Arabiere nie. Sommige van ons telers, wat kastig diereliefhebbers is, doen ook dinge met diere wat op mishandeling neerkom. Sommige skouperde se sterte word geopereer sodat die stert regop moet staan. Stappe wat geneem word om ‘n perd te leer om sy voete hoog op te tel is ook wreed. Honde se sterte en ore word geknip om hulle anders te laat lyk. Selfs olifante in gevangenisskap het deurgeloop maar dit is blykbaar stopgesit. Daar is baie voorbeelde van sulke wandade teenoor diere.

Boksombende

Botoks vir kamele! Ek het nou lekker gelag!

Minion

Botoks vir kamele… ongelooflik. Wat die mensdom nie nóg sal doen nie…

Maritza

Dis omtrent vreemd