Kanadese hittegolf eis talle lewens

Vancouver Dinsdag te midde van die hittegolf. (Foto: Don MacKinnon / AFP)

Minstens 134 mense is sedert Vrydag skielik in die omgewing van Vancouver in Kanada dood terwyl dié land sy hoogste temperature nóg oor die afgelope paar dae aangeteken het.

Die polisiestasie in Vancouver het Dinsdag bekend gemaak dat sy beamptes sedert Vrydag op meer as 65 skielike sterftes gereageer het, waarvan die oorgrote meerderheid verband hou met die versengende hitte wat die gebied tans beleef.

Temperature in Kanada het Dinsdag vir ’n derde agtereenvolgende dag ’n rekordhoogte bereik met die kwik wat in Lytton in die provinsie Brits-Columbië, ongeveer 250 kilometer oos van Vancouver, tot 49,5 °C gestyg het.

“Vancouver het nog nooit só ’n hittegolf ervaar nie en ongelukkig sterf daar tientalle mense as gevolg daarvan,” sê Steve Addison, polisiebeampte in Vancouver.

Ook die hooflykskouer in Brits-Columbië het vandeesweek aangedui dat hy “’n beduidende toename in sterftes beleef waar vermoed word dat uiterste hittetoestande tot die sterftes bygedra het”.

Dié diens sê in ’n verklaring altesame 233 sterftes is tussen Vrydag en Maandag aangeteken vergeleke met ’n gemiddeld van 130 sterftes wat gewoonlik oor ʼn naweek aangemeld word.

Ander plaaslike munisipaliteite het intussen ook bekend gemaak dat hulle op baie skielike sterftes gereageer het, hoewel die munisipaliteite geen dodetal verskaf het nie.

Inwoners van Vancouver sê hulle het nog nooit ’n hittegolf van dié aard beleef nie. “Dit was nog nooit so erg nie. Ek het nog nooit so iets beleef nie,” sê ’n inwoner wat haar as slegs Rosa wou identifiseer.

Klimaatsverandering lei daartoe dat rekordtemperature meer gereeld aangeteken word. Die huidige versengende hitte wat vanaf die Amerikaanse deelstaat Oregon tot die Arktiese gebiede van Kanada strek, word toegeskryf aan ’n hoëdrukrif wat warm lug in die streek vasvang.

Die Amerikaanse stede Portland (46 °C) en Seattle (42 °C) het Maandag ook hul hoogste temperature sedert die 1940’s aangeteken. Dít terwyl Vancouver reeds dae lank temperature bo 30 °C aanteken.

Environment Canada het waarskuwings vir die provinsies Brits-Columbië, Alberta en dele van Saskatchewan, Manitoba en Yukon uitgereik en gesê die “langdurige, gevaarlike en geskiedkundige hittegolf” sal hierdie week voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tipper ·

Somer weer 32 grade is ok,maar as die heatwaves eers inkom dan raak dit erg,en dan verlang jy na die winter.

Stella ·

In Kimberley, Noordkaap is ons gewoond aan somer temperature bo 45°C..nix snax ni..

Bushy ·

15 van my familie lede het verlede jaar na Saskatchewan geimmigreer vanaf Hoedspruit. Lyk my hulle het die warm weer ook ingepak en saamgeneem.

Belinda ·

Ek worry net oor die diere, mense worry meer oor hulself. Hopelik is daar darm mense wat improvise en darm soos water bakke buite sit vir diere ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.