Kannibaal-polisieman vrygespreek

Gilberto Valle Foto: NY Daily News

Gilberto Valle Foto: NY Daily News

ʼn Voormalige polisiebeampte van New York in Amerika wat skuldig bevind is dat hy saamgesweer het om vroue te ontvoer, te martel, te vermoor en te eet, is Dinsdag deur ʼn regter vrygelaat weens ʼn gebrek aan getuienis.

Gilberto Valle (30), die “cannibal cop”, se hofsaak het New York verlede jaar aangegryp toe ʼn hele ondergrondse netwerk van kannibale ontbloot is. Hy het glo webwerwe oor “doodspornografie” besoek en sy planne om vroue te ontvoer, in besonderhede daarop verduidelik. Hy het gespog dat hy hulle sal martel, vermoor en sal eet.

Hy het ook ʼn lys opgestel van moontlike slagoffers, insluitend vriende en sy vrou, die ma van sy kind, wat hom uiteindelik aan die FBI oorgegee en teen hom in die hof getuig het.

Hy het 21 maande lank in die tronk spandeer.

Regter Paul Gardephe het egter in sy 118 bladsy lange uitspraak gesê hoe “afwykend” en “verdorwe” Valle se fantasieë ook al mag wees, het geen misdaad plaasgevind nie. “Niemand is ontvoer nie, geen poging tot onvoering het plaasgevind nie, en geen werklike stappe is gedoen om enigiemand te ontvoer nie,” het hy geskryf.

Die regter het Valle op borgtog van $100 000 vrygelaat. Staatsaanklaers het aangetoon hulle gaan appèl aanteken teen die uitspraak. Valle moet by sy ouers tuisgaan totdat die appèlaansoek aangehoor is. Hy moet ook ʼn elektroniese opspoorbandjie dra en mag nie die internet gebruik nie. Hy moet ook sielkundige waarneming ondergaan.

Sy regspan het aan verslaggewers gesê hulle is baie opgewonde. “Dit bevestig wat ons al van die begin van die saak af sê, dat hy aan niks buiten onkonvensionele denke skuldig is nie,” het prokureur Julia Gatto gesê.

Staatsaanklaers het in Februarie en Maart 2013 tydens die hofsaak aangevoer Valle is gereed om uiting te gee aan sy fantasieë. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.