Kans om koronavirus te stuit al hoe kleiner

Weermagvoertuie spuit ontsmettingsmiddels op ‘n straat digby die Dongdaegu-treinstasie in Daegu, Suid-Korea. (Foto: Ryu Young-suk/Yonhap via AP)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) waarsku die kans is “baie goed” dat die dodelike Covid-19-virus, oftewel die koronavirus, wêreldwyd gaan versprei. Dít terwyl die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, gesê het die gaping om die virus in bedwang te bring word al hoe kleiner.

In ʼn verslag wat Vrydag uitgereik is, sê Chinese gesondheidsamptenare diegene wat weens die virus sterf is 1,4% van diegene wat dit opdoen en is gegrond op navorsing onder 1 099 pasiënte by meer as 500 hospitale oor China.

As daar aangeneem word dat heelwat meer mense met geen of matige simptome rondloop, kan die sterftesyfer tot minder as 1% daal. Dit gaan die virus meer van ʼn seisoenale griep maak as ʼn siekte soortgelyk aan EARS (ernstige akute respiratoriese sindroom) of MERS (Midde-Oosterse respiratoriese sindroom).

Maar gegewe hoe maklik die virus versprei, kan die virus wêreldwyd ʼn houvas kry en heelwat meer mense kan sterf, waarsku kenners.

Die virus het reeds ʼn ernstige uitwerking op die wêreldwye ekonomie en as Covid-19 ʼn wêreldwye pandemie word, verwag ekonome dat die situasie heelwat gaan vererger.

Die lys van lande waar die virus bevestig is, het reeds na amper 60 opgeskiet nadat Mexiko, Belo-Rusland, Litoue, Nieu-Seeland, Nigerië, Azerbaidjan, Ysland en Nederland ook voorvalle van die siekte bevestig het.

Meer as 85 000 mense het reeds die siekte opgedoen en die dodetal is net-net minder as 3 000.

China het ʼn afname in nuwe besmettings aangemeld en teen Saterdagoggend is 427 nuwe gevalle oor die afgelope 24 uur aangemeld. Nog 47 mense het in die land weens die siekte gesterf. Wuhan, die stad waar die siekte begin het, het die meeste van dié sterfgevalle gehad.

Suid-Korea is tot dusver die tweede swaarste getref en het teen vanoggend 813 nuwe voorvalle aangemeld. Dit is die grootste styging sedert die eerste geval in Januarie aangemeld is en bring die totale getal op 3 150 gevalle te staan.

Die verspreiding van die siekte in Italië en Iran het nou tot besmettings in verskeie ander dele gelei en Frankryk en Duitsland het reeds ʼn toename in voorvalle gehad. Tientalle mense daar het die virus opgedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Niel ·

Wonder nogal in gevalle waar geen “spoor” na gekom kan word van waar virus tussen mense in oorsese lande versprei is dalk veroorsaak is deur slagoffers van mensehandel uit China uit?

Josef du Toit ·

Met nog net Ierland en Portugal onder die groter Wes-Europese lande wat sonder ‘n COVID-19 aanmelding staande bly (29 Feb), benewens ‘n sewetal kleiner lande, is die situasie nie veel anders as die gewone wintergriepseisoen nie, behalwe dat daar geen inenting voor is nie, en daar geen sekerheid is dat die ontstekings in die lente sal begin afneem in Europa nie.

Ook Andorra, Malta, Noord-Siprus, Siprus, Die Vatikaan, Luxemburg & Liechtenstein nog amptelik vry van COVID-19.

Kruger ·

En onse sa is nog skoon. Wonder net hoe lank gaan ons koppe nog in die sand wees. Sal seker wakkerskrik na die eerste honderd sterftes.

J ·

Dit is nou die einde van Winter in die Noordelike halfrond … normale griep / verkoue seisoen.

Die Suidelike halfrond Winter is op pad … dan sal die Corona Virus sy ding doen … ook by ons in SA.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.