Kans op oorlewing skraal ná Chinese veerboot omslaan

Die Eastern Star. Foto: Chinatopix Via AP

Die Eastern Star. Foto: Chinatopix Via AP

Reddingswerkers het Vrydag ʼn Chinese veerboot wat Maandag weens gure weer in ʼn rivier omgeslaan het, regop getrek om die soektog na vermiste persone voort te sit.

Chinese staatsmedia berig meer as 300 mense word steeds vermis. Die boot, Eastern Star, is in die Yangtze-rivier regop getrek, hoewel dit steeds grootliks onderwater was met slegs die boonste twee verdiepings sigbaar.

Ongeveer 50 reddingsduikers het deur die nag gewerk om bande aan die boot vas te maak, voordat hyskrane gebruik is om dit regop te trek. Die operasie het twee uur lank geneem. Duikkenners en reddings- en bootontwerpspesialiste was deurentyd op die toneel.

Die vaartuig moet nou heeltemal uit die water getrek en gedreineer word voordat die soektog na liggame in die binneruim voortgesit kan word.

Volgens die Xinhua-nuusagentskap was 456 mense aan boord toe die boot in Jianli in die Hubei-provinsie omgeslaan het. Die dodetal staan reeds op 97. Altesaam 14 mense is gered, maar die kans dat nog oorlewendes gevind sal word, is skraal en die dodetal kan na verwagting op 442 te staan kom.

Die boot was op ʼn 11 dae lange vaart onderweg van Nanjing tot Chongqing. Die kaptein, wat die tragedie saam met die hoofingenieur oorleef het, het gesê die boot het binne sekondes gesink. ʼn Ondersoek na die oorsaak van die ongeluk is aan die gang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.