“Kaper” het gemakhuisie gesoek

Matt Christopher Lockley

Matt Christopher Lockley

ʼn Australiese passasier wat ʼn kapingswaarskuwing in ʼn Virgin Australia-vliegtuig laat afgaan het, voer aan hy het aan die kajuit se deur gehamer omdat hy dit met die toilet verwar het.

Matt Christopher Lockley sê hy was ook depressief tydens die vlug na die vakansie-eiland Bali, aangesien hy op soek is na sy Indoniese vrou met wie hy kontak verloor het, het die polisie in Indonesië Saterdag gesê.

Owerhede het na die lughawe gejaag toe die Boeing 737-800 van Brisbane geland het ná ʼn berig van die vlieënier oor ʼn kapingspoging.

Lockley het sandale, ʼn kortbroek en T-hemp aangehad en is deur swaar gewapende personeel van die lugmag van die vliegtuig verwyder en die polisie het hom in hegtenis geneem. Die lughawe is gesluit en verskeie vlugte is herlei na ander lughawens.

Beamptes in Indonesië het aanvanklik gesê die 28-jarige man was onder die invloed van alkohol, maar die polisie het Saterdag gesê hy is in die hospitaal opgeneem vir moegheid. Hy ontken dat hy onder die invloed van alkohol was. Hy is steeds in aanhouding.

“Lockley het aan die polisie gesê hy het twee spierverslappers, vier pynstillers en twee bottels Coca-Cola gedrink voor die vlug,” het Hery Wiyanto, woordvoerder van die polisie in Bali, aan AFP gesê. “Hy het ontken dat hy onder die invloed van alkohol was. Hy het gesê hy ly aan depressie weens huishoudelike probleme.”

Die polisie wag nog vir die uitslag van ʼn alkoholtoets, maar hulle kon glo nie alkohol aan hom ruik nie.

Lockley is glo al twee weke lank op soek na sy vrou en beweer hy het hallusinasies van ʼn persoon wat hom agtervolg en sy bagasie wou steel.

Wiyanto sê hy kan aangekla word omdat hy die veiligheid van die passasiers in gedrang gebring het. Hy kan tot twee jaar tronkstraf en ʼn boete van 500 miljoen rupiah (R461 000) in die gesig staar. -SAPA

Lees ook:
Virgin-vliegtuig nie gekaap nie, slegs besope passasier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.