‘Kapt. Von Trapp’ se stem nou stil

Die geliefde akteur Christopher Plummer is Vrydagaand dood. Hy was 91. (Foto: Joe Klamar/AFP)

Die Kanadese veteraanakteur Christopher Plummer, wie se dekades lange loopbaan waarskynlik veral gekenmerk word deur sy rol as kaptein Georg von Trapp in The Sound of Music, het laat Vrydagaand gesterf.

Hy was 91 jaar oud.

Plummer is by sy huis in Connecticut dood, met sy vrou, Elaine Taylor, aan sy sy, het sy jarelange vriend en bestuurder, Lou Pitt, gesê.

Pitt het Plummer bestempel as ʼn man wat sy beroep diep liefgehad en gerespekteer het; ʼn man met ouwêreldse maniere, ʼn pragtige sin vir humor en “die musiek van woorde”.

“Hy was ʼn nasionale skat wat sy Kanadese wortels gekoester het. Deur sy kuns en menslikheid het hy ons almal se harte geraak en sy legendariese lewe duur vir voort vir geslagte wat nog kom.”

Plummer het in The Sound of Music teenoor Julie Andrews die rol vertolk van die aristokratiese wewenaar Von Trapp. Die 1965-rolprent het gehandel oor ʼn musikale gesin en hul ondeunde goewernante en het afgespeel in Oostenryk op die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog.

Ten spyte van die wêreldwye sukses van die rolprent, het Plummer aanvanklik in die openbaar nie veel ooghare vir die film gehad het nie en hy het sy rol daarin in 2011 in The Hollywood Reporter as “gooey” bestempel.

Hy het later bes gegee en in 2015 aan dieselfde publikasie gesê die produksie was “die laaste bastion van vrede en onskuld in ʼn baie siniese tyd”.

Andrews het Plummer die “volmaakte akteur” genoem.

“Ek koester die herinneringe van ons werk saam, asook al die humor en pret wat ons deur die jare gedeel het.”

Plummer was een van die bekendste en mees gerespekteerde akteurs in Hollywood en kon sowat 100 rolprente en tientalle televisiereekse agter sy naam skryf.

Sy eerste Oscar-toekenning was in 2010 vir The Last Station en sy vertolking van die Russiese skrywer Leo Tolstoy.

Twee jaar later kon hy uiteindelik die goue beeldjie huis toe neem toe hy op 82 die oudste akteur geword het om ʼn Oscar te wen. Die toekenning is gedoen vir sy ondersteunende rol in Beginners, as ʼn man wat sy homoseksualiteit openlik uitleef nadat sy vrou sterf.

“Waar was jy my hele lewe lank,” het Plummer by die toekenningsgeleentheid in die rigting van die beeldjie geskerts. Hy het gespot dat hy boonop al sedert sy geboorte aan sy Oscar-toespraak oefen.

In 2018 is hy weer vir ʼn Oscar benoem, dié keer vir sy rol in All the Money in the World. Kevin Spacey sou die rol oorspronklik vertolk, maar hy is vervang ná bewerings van seksuele wangedrag.

Plummer het ook die rol vertolk van die geharde miljardêr J Paul Getty, wat geweier het om ʼn losprys vir sy ontvoerde kleinseun te betaal.

Hy was in 2019 te sien in Knives Out, teenoor Daniel Craig, Chris Evans en Jamie Lee Curtis.

Die regisseur van dié film, Rian Johnson, het Plummer ʼn legende genoem wat sy kuns bemin het, “ʼn ware heer”.

Plummer is in 1929 in Toronto gebore. Hy was drie keer getroud, die laaste keer met Taylor. Hy word ook oorleef deur sy dogter, die aktrise Amanda Plummer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.