Kaptein vas ná oliestorting

Foto verskaf deur die Franse Weermag wys die oliestorting van die MV Wakashio (11 Augustus 2020) (Foto: Gwendoline Defente, EMAE via AP)

Die kaptein van die Japanse olietenkskip wat verlede maand naby die kus van Mauritius gestrand en sowat 1 000 ton van sy vrag in die Indiese Oseaan uitgelek het, is in hegtenis geneem.

BBC berig die Indiese man Sunil Kumar Nandeshwar (58) word aangekla van nalatigheid.

Nandeshwar het reeds in ’n hof in Port Louis in Mauritius verskyn en bly in aanhouding tot sy volgende verskyning op 25 Augustus.

Dít volg nadat die polisie bemanningslede ondervra het en dit aan die lig gekom het dat daar ‘n verjaardagpartytjie aan boord van die MV Wakashio was dieselfde dag waarop die skip op ʼn koraalrif geloop het.

Die MV Wakashio het ook na bewering die betrokke dag naby die kus beweeg om WiFi-sein te kan opvang. Dié bewerings word ondersoek.

(Foto: Eric Villars/AP)

Maroela Media het vroeër berig die MV Wakashio wat deur Nagashiki Shipping besit en deur Mitsui OSK Lines (MOL) Ltd bedryf word, het op 25 Julie op die Pointe d’Esny-koraalrif aan die Suidkus van die eiland gestrand.

Die skip het ten tyde van die voorval 4 000 ton olie vervoer waarvan 1 000 ton van sy vrag eindelik in die kuswater uitgelek het.

Die toestand van die skip het deurlopend versleg en teen 6 Augustus het die skip begin om olie te lek toe golwe daarteen bly slaan en uiteindelik die romp begin skeur het. Die regering in Mauritius het op 7 Augustus ʼn noodtoestand verklaar.

Die voorste deel van die skip het Saterdagmiddag in twee geskeur op die riwwe van Pointe d’Esny en sowat 30 meter ver weggedryf. Die voorste deel sal na verwagting weggesleep word terwyl die agterste deel van die skip aanvanklik in die golwe gelaat sal word. Sowat 40 ton olie was teen Sondag nog in die MV Wakashio en owerhede poog om dit ook te verwyder voordat dit ook in die oseaan uitlek.

’n Span Japanse ministeriële beamptes en kenners begin Woensdag om die omvang van die skade te bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

tweeling ·

Laat hom solank help om die gestorte olie op te ruim terwyl hy wag vir sy volgende verskyning in die hof

marius ·

Die plek is vernietig . Geen geld in die wereld kan dit herstel nie .

Danie ·

Ek is so bly ek kon die plek besoek voor die gemors plaasgevind het.
Daardie kuslyn sal in 500 jaar nie weer dieselfde wees nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.