Ou nuus wat as nuwe nuus afgestof word en gedramatiseer word het daartoe gelei dat ‘n berig oor die Karibadam wat dalk kan ingee, soos ‘n veldbrand deur die mediawêreld versprei het.
Twee jaar gelede het Elton Mangoma, Zimbabwe se minister van energie en kragopwekking in die Zimbabwiese parlement gesê daar is swakhede in die Karibadam se wal aan Zimbabwe se kant, wat daartoe kan lei dat die damwal ingee as daar nie stutwalle gebou word nie.
Hoewel Harare reeds twee jaar gelede oor die minister se opmerking verslag gelewer het, het die nuus nou eers soos ‘n veldbrand versprei toe die Zambiese koerant, die Zambia Daily Mail hieroor verslag gelewer het. Die koerant haal Felix Nkulukusa, voorsitter van die interregeringskomitee, aan wat die dam bestuur. Nkulukusa, wat getaak is daarmee om die nodige fondse te kry om die damwal te stabiliseer, sê die wal kan binne drie jaar breek as daar nie gou werk van gemaak kan word nie.
Indien die damwal breek, sal sowat 3,5 miljoen mense geraak word. Dit sal ook die kragsentrale by die Chohora Bassa-aanleg in Mosambiek oorstroom, en die water sal ook in die Lusaka-vallei opstoot en moontlik Lusaka oorstroom.
Paolo Muxanga, voorsitter van die Hidroelectrica de Cahora Bassa, sê egter hulle is niks laat weet nie. Hy sê hulle weet “al lankal” dat daar probleme by die Karibadam is, maar dat dit so onmiddellik kritiek is, het hulle nie geweet nie.
Bron: The Zimbabwean, Harare 24, Radio Dialogue
Nou gaan Kaptein Caprivi van die 70’s seker die skuld kry.