Karkas van bedreigde walvis spoel op strand uit

(Foto: JP Desvigne/Unsplash)

Die karkas van ʼn bedreigde blouwalvis het Dinsdag op ʼn strand in Namibië uitgespoel nadat dit vermoedelik met ʼn vaartuig gebots het.

Dié walvis, wat ook die wêreld se grootste soogdier is, het ʼn gebreekte borsvin en letsels aan sy liggaam gehad.

“Omdat die walvis se letsels so vars is, is dit moontlik dat dit deur ʼn skip naby aan die baai getref is,” het Simon Elwen, ʼn natuurbewaarder, gesê. Monsters wat van die walvis se beserings geneem is, behoort presies vas te stel waaraan die walvis gevrek het, het Elwen bygevoeg.

ʼn Walvisentoesias het Maandag die karkas vir die eerste keer in Walvisbaai opgemerk. Die walvis het glo onderstebo gedryf en later op die strand uitgespoel.

“Dit is die eerste keer dat ʼn blouwalvis in dié streek gevrek het,” het Elwen gesê. Dit kan egter as bewys gesien word dat die blouwalvisbevolking toegeneem het.

Blouwalvisse het onlangs weer die oseane van Suidelike Afrika begin bevolk nadat hulle byna uitgewis is deur grootskaalse jagveldtogte. Dit is egter ongehoord om een van dié walvisse van die kus te sien, aangesien hulle nie gewoonlik naby die kuslyn kom nie.

Volgens die Wêreldnatuurfonds is daar slegs tussen 10 000 en 25 000 blouwalvisse oor op die planeet.

Dié spesie, wat deur die Internasionale Natuurbewaringsunie beskou word as “bedreig”, word steeds deur habitatsverlies en besoedeling bedreig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eclectus ·

Ek het onlangs op YouTube ‘n video gekyk oor die moontlikheid dat honderde of selfs duisende walvisse jaarliks sterf as gevolg van botsings met skepe. Navorsing hieroor is egter bykans onmoontlik omdat die karkasse meestal sink en dat daar weinig bewys is van insidente. Verskeie tegnologie en operasionele moontlikhede word ondersoek, maar die mees werkbare oplossing tans is dat skepe bekende walvis migrasie roetes vermy of in sekere gebiede spoed verminder en uitkyk vir walvisse.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.