Karnavalgangers sterf toe motor in hulle ploeg

Karnavalgangers by Strepy-Bracquegnies naby La Louviere (20 Maart 2022) (Foto: Nicolas Maeterlinck/Belga/AFP/Belgium OUT)

België is in rou ná ʼn motor Sondag in ʼn skare karnavalgangers ingeploeg het.

Die voorval het omstreeks 05:00 (0400 GMT) plaasgevind, net toe die karnaval by Strephy-Bracquegnies, ʼn distrik in La Louviere, begin het.

Minstens ses persone is dood en 26 beseer, insluitend 10 persone wat om hul lewens veg in die hospitaal, het staatsaanklaer Damien Verheyen aan verslaggewers by die stadsaal gesê.

Ondersoekbeamptes sê die twee verdagtes wat in die motor gery het, is albei in hul 30’s en oorspronklik van La Louviere afkomstig, ʼn dorp naby die Franse grens. Hulle is nie aan owerhede bekend vir soortgelyke optrede nie en terreur word uitgeskakel as moontlike motief.

Hoofstaatsaanklaer Christian Henry het gesê die twee het van ʼn nagklub af teruggekeer en “het pas iemand anders afgelaai net voor die gebeure”.

Die uitslae van bloedtoetse word Maandag verwag. “Dit sal vir ons besonderhede verskaf of hulle moontlik dwelmmiddels gebruik het,” het hy aan RTBF gesê.

In hierdie stadium word ʼn saak van moord ondersoek, maar dit is moontlik dat die klag na strafbare manslag gewysig kan word, het hy bygevoeg.

Belgiese dorpies hou gewoonlik tydens die Vastyd straatkarnavalle. Die parades in Binche en Aalst is internasionaal bekend.

Die karnaval in Strepy-Bracquegnies, net soos Binche, beteken dat deelnemers soos “Gilles” aantrek – komiese figure wat uitspattig aangetrek is en “geroep” word om in die vroeë oggendure aan die parade deel te neem.

Jacques Gobert, burgemeester van La Louviere, sê tussen 150 en 200 mense het vroegoggend aan die karnaval deelgeneem, insluitend die “Gilles” in hul uitrustings. “Toe hulle ʼn pad bereik, het ʼn motor vinnig van agter gekom en letterlik in hulle vasgeploeg,” het hy aan verslaggewers gesê.

Ooggetuies het ʼn angswekkende toneel beskryf van hoe die motor in die groep karnavalgangers, waaronder kinders, ingeploeg het.

Fabrice Collignon, ʼn Belgiese TV-aanbieder, het aan AFP gesê die optog was reeds aan die gang tot ons “in ʼn oogwink van pret en plesier na absolute gruwel oorgegaan het”.

Volgens Collignon het dit gelyk of die motor “doelbewus in die skare ingeploeg het”.

Nog ʼn ooggetuie, Theo, het aan RTBF-nuus gesê hy het gesien die motor “ry baie vinnig en het nooit gerem nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.