Kat red man van moontlike skietdood

Fred Everitt saam met sy kat Bandit. (Foto: Thomas Wells/Daily Journal)

ʼn Huiskat het haar eienaar van ʼn moontlike skietdood gered nadat sy alarm gemaak het dat twee mans by sy woning in die Amerikaanse deelstaat Mississippi probeer inbreek.

Fred Everitt (68) het aan Daily Journal vertel dat sy 9 kg-kat, genaamd Bandit, nie net ʼn rooftog gefnuik het nie, maar ook sy lewe in die proses gered het, berig Fox News.

“ʼn Mens hoor van waghonde, maar dié een is ʼn wagkat.”

Die afgetrede mond-en-kaakchirurg het op 25 Julie in sy huis in Belden geslaap toe hy om 02:30 gehoor het hoe Bandit aanhoudend in die kombuis miaau.

Die kat het skielik sy slaapkamer ingevaar, op sy bed gespring en die kombers van Everitt afgetrek. Bandit het heeltyd Everitt se arm gekrap en dit is toe dat hy onraad vermoed het.

“Sy het nog nooit dít gedoen nie, so ek het dadelik gewonder wat skort,” sê hy.

Everitt is na sy kombuis toe om ondersoek in te stel toe hy twee jong mans buite sy agterdeur sien staan het. Een het ʼn vuurwapen in sy hand gehad, terwyl die ander een ʼn koevoet gebruik het om die deur te probeer oopkry.

In reaksie op die toneel wat voor hom afspeel, het Everitt gehardloop om sy eie vuurwapen te gaan kry. Teen die tyd dat hy weer in die kombuis gekom het, het die vermeende rowers reeds op die vlug geslaan.

Hy het nie die polisie ná die voorval ontbied nie, maar hy meen sonder Bandit kon die situasie heeltemal anders verloop het.

“Ek is dankbaar dat daar geen konfrontasie was nie, maar dit is alles te danke aan my kat.”

Everitt het Bandit vier jaar vantevore van die Tupelo-Lee Humane Society aangeneem. Hoewel hy destyds haar lewe gered het, het sy hom nou bedank deur ook sy lewe te red.

“Ek wil hê mense moet weet dat daar soveel waarde daarin is om ʼn dier te red. Jy weet nooit wanneer daardie selfde dier jou gaan red nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Perdeby ·

Wat ‘n mooi storie. Sy gaan verseker nou elke dag lekker bederf word.

Cherokee ·

Toe nou! (tyd dat die perdeby met ‘n angel gelooi word!) Dit is absoluut waarskynlik ‘n reeds bederfde kat.

Hannelie ·

Dis so ‘n mooi storie. Ja nee diere raak beslis jou kinders.

Nicholaas ·

Katte is baie ingestel op hul gebied, ek al gesien my katte se gedrag verander baie as iets nie pluis is so ek al geleer om hul ook dop te hou om te weet as iets nie reg is,

Sonblom ·

Dis nou ‘n voel goed storie. Bandit is verseker ‘n wagkat.

Cherokee ·

MM… dink julle nie julle oordryf absoluut met die woord ‘vermeende’ wanneer berig word oor ‘n Amerikaanse poging tot inbraak waar die potensiële inbrekers nie eens gerapporteer is, en onopspoorbaar is? Daar is die minimum tye wanneer dit (sulke versigtigheid) geregverdig is, maar gewoonlik, soos nou, absoluut oordrewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.