Kat vanjaar dalk Nieu-Seelander van die Jaar

(Foto: Twitter)

Dis Mittens teen die res.

ʼn Onverskrokke kat van Wellington in Nieu-Seeland is benoem vir die land se gesogte toekenning as Nieu-Seelander van die Jaar.

Mittens, ʼn Turkse angorakat, is glo in 2018 by ʼn polisiestasie in die hoofstad aangedra deur inwoners wat gevrees het hy het verdwaal.

Die Evening Standard berig ná talle ontmoetings met die kat het die land se vereniging vir die voorkoming van dierewreedheid ʼn Facebook-blad begin om mense te verseker Mittens is nie ʼn verlore siel nie, net ʼn kat met ʼn voorliefde vir avontuur.

Die Facebook-blad het reeds 57 000 volgelinge wat die kat se daaglikse bedrywighede volg.

Verlede jaar is Mittens boonop met vryheid van die stad vereer.

Ander plaaslike helde wat vir die toekennings benoem is, sluit in die eerste minister, Jacinda Ardern, haar spreekwoordelike “span van vyf miljoen” wat by die afsonderingsregulasies tydens die Covid-19-pandemie gehou het, asook die land se direkteur-generaal van gesondheid, dr. Ashley Bloomfield.

Voormalige wenners van die toekennings sluit in die voormalige All Blacks-kaptein Richie McCaw, die akteur en regisseur Taika Waititi en die komediant en geestesgesondheidsaktivis Mike King.

Evening Standard berig die toekenning is weliswaar nog nooit deur ʼn kat gewen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nella ·

Ek love katte en honde, eintlik enige dier (meer as wat ek van mense kan sê). Mag dit sy beurt wees die jaar.

JohanR ·

Hier in SA het ons net ‘n “mens” as Mampara van die jaar, en daai prys gaan aan President Nkosazana Dlamini-Zuma met 522 punte uit ‘n 100! Sy wen hom sommer vir die volgende 10 jaar want dit is hoe lank sy die land agteruit gesit het!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.