Kat wat topverkoper-boekereeks inspireer, sterf

Bob in 2016. (Foto: AP Photo/Alastair Grant, File)

Bob, die geliefde gemmerkat wat die inspirasie was vir die boekereeks A Street Cat Named Bob, is Maandag in die ouderdom van 14 dood.

A Street Cat Named Bob: And How He Saved My Life is in 2012 gepubliseer en sedertdien het nog vyf boeke in die reeks verskyn en is dit in 40 verskillende tale vertaal.

Die skrywer van die reeks, James Bowen, het in 2007 met Bob bevriend geraak toe hy op dié verlate en beseerde kat afgekom en besluit het om hom te versorg. Dit het Bowen, ʼn voormalige straatsanger en koerantverkoper in Londen, glo gehelp om sy dwelmverslawing te oorkom.

James Bowen en sy kat, Bob, wat die topverkoper-boekereeks ‘A Street Cat Named Bob’ inspireer het. (Foto: Facebook)

Bowen het uiteindelik ʼn boek oor sy band met Bob geskryf en dié topverkoper is in 2016 vir die silwerdoek verwerk. Bob het self in dié fliek verskyn.

‘n Tweede rolprent, A gift from Bob, waar in hy ook sy verskyning maak, sal later vanjaar uitgereik word.

Bowen het in ʼn verklaring op Facebook gesê die kat het sy lewe gered. “Dit is so eenvoudig soos dit. Hy het my soveel meer as kameraadskap gebied. Met hom aan my sy het ek rigting en ʼn doel gevind wat ek gemis het.

“Hy het derduisende mense ontmoet en miljoene lewens aangeraak. Daar was nog nooit ʼn kat soos hy nie en daar sal ook nooit weer een soos hy wees nie. Ek voel asof ʼn lig in my lewe uitgedoof is. Ek sal hom nooit vergeet nie.”

Bron: BBC.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

katerinadiekat ·

Klink of jy nie juis n diereliefhebber is nie. As mens lief was vir n dier, se mens die dier het gesterf. Waarom die lelikste vorm van die konsep gebruik? Of is dit net katte wat jy nie kan verdra nie? As jy dalk n geliefde hond van 16 jaar aan die dood moet afstaan, gaan jy se: “My hond is vanoggend dood / het vanoggend gesterf” of gaan jy se: ” My hond het vanoggend gevrek” Nie dat ek verwag dat jy n diere eienaar is nie.

Johan ·

Net nog ‘n voorbeeld van watse wonderlike diere hulle is. Dis net jammer dat daar so baie kat haaters in die wereld is.

Nell ·

Pragtige kat. Ek hoop Bob en Grumpy baljaar lekker daar bo…

Michael ·

Dis n jammerte dat die kat dood is. Maar ek dog net mense sterf? Diere vrek in die ou taal of gaan dood. N mens sterf.. Of is ek nou net kleinsinnig????

Nell ·

Mense sowel as diere gaan dood. In Engels ”die” mense sowel as diere. Diere spesies sterf uit…dus sou ek ook se ‘n geliefde troeteldier sterf eerder as om te sê vrek.

Johan ·

Ek sou sê wilde diere of vee vrek. Troeteldiere sou ek ook verkies om te sê sterf.

VannieBaai ·

Maak dit saak? ‘n Geliefde troeteldier is dood. Of hy nou vrek is en of hy gesterf het, hy het mense se harte aangeraak en was baie geliefd.

Sandra ·

Vrek is so ‘n kras woord, ja, dit is seker reg, maar klink nie mooi nie.

christo ·

Die berig handel oor die veranderingrol wat ‘n weggooi kat in iemand wat plat geslaan was gehelp het om weer op te staan uit chaos.
Diere bereik soms meer wanneer jou medemens jou vermy. Vir James Bowen is Bob dood. Wanneer my troeteldiere doodgaan, gaan lojale vriende dood. So as vrek jou pas, is dit jou keuse.

Amatambo ·

Ek het self katte – en honde in my lewe gehad wat my bestaan in vele opsigte verryk het – dink net hoe leeg mens se lewe sonder hierdie viervoetiges sou wees… het steeds twee hondjies, en sou graag ‘n kat ook wil byvoeg, maar hierdie twee brakenjanne het my baie beslis laat verstaan: GEEN KATTE NIE!!!

Petrus Albertus ·

Gaan lees die boek. Dit gee ń wonderlike insig van wat n bydra n troeteldier kan lewer tot iemand se lewe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.