Katar dalk Fifa-toernooi kwyt weens hitte, menseregteskendings

‘n Kunstenaarsvoorstelling van Katar se hoofstadion wat gebou gaan word.

‘n Kunstenaarsvoorstelling van Katar se hoofstadion wat gebou gaan word.

Volgens Theo Zwanziger van Duitsland, ʼn senior bestuurslid van Fifa, sal die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2022 nié in Katar plaasvind nie.

Hy het gesê mediese verslae toon dat dit gans te warm in Katar is en nie net die spelers nie, maar ook die ondersteuners, sal in gevaar gestel wees al word die stadions self lugverkoel. Dit kan tot eise teen Fifa lei.

Zwanziger het in November verlede jaar reeds die besluit om Katar as gasheer te laat optree, as een van sport se grootste foute ooit beskryf. Vroeër is die moontlikheid genoem om die toernooi van sy gebruiklike tydgleuf in Junie na Desember te verskuif, wat in die noordelike halfrond in die winter is. Dit skep egter ’n berg probleme op sy eie.

Nog besware is dat Katar hom erg aan menseregteskendings skuldig maak, onder meer juis deur die bou van die futuristiese stadions. Talle bouers uit Indië, Pakistan, maar veral Nepal het glo weens die onmenslike werksomstandighede in ondraaglike woestynhitte omgekom.

Voorts wil die storie dat Katar mense omgekoop het om die bod op hom toegeslaan te kry, net nie wyk nie.

Katar het al ver gevorder met die bou van die lugverkoelde stadions.

Fifa sal na berig word in 2015 ‘n aankondiging oor die aanbied van die toernooi in Katar doen.

Bronne: Trouw, AFP, ESPNFC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

“Voorts wil die storie dat Katar mense omgekoop het om die bod op hom toegeslaan te kry, net nie wyk nie.” Kom nou – het Suid-Afrika nie ook miljoene gespandeer aan “geskenke” tydens hulle veldtog vir die 2010 toernooi nie. So maak elke land wat probeer om die wereldbeker toernooi aan te bied – FIFA is korrup tot in sy siel maar dit is onregverdig om Katar te blameer bloot omdat hulle dieper sakke het as ander…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.