Katjie stop verkeer op hoofweg

Smudge (Foto: National Highways via BBC)

Die verkeer op ’n snelweg by Doncaster, Engeland, is tot stilstand gebring weens ’n katjie wat op die middelman gestrand was.

BBC berig motoriste het die katjie Saterdag tussen twee aansluitings op die M18-snelweg naby Doncaster opgemerk en die nooddienste ontbied. Verkeersbeampte Gavin Buffam van National Highways het tot die katjie, wat Smudge gedoop is, se redding gekom.

’n Padblokkade is ingestel om die verkeer te stop sodat Buffam die katjie kon red.

Buffam, wat Smudge as “’n vurige dingetjie” beskryf, het die katjie teen die beton middelman gevind.

Smudge is na die verkeersagentskap se depot geneem (Foto: National Highways via BBC)

“Ek het die katjie probeer gryp, maar dit het weggehardloop. So vir my eie veiligheid, die veiligheid van padgebruikers en natuurlik die katjie, is ’n padblokkade ingestel om die verkeer te stop sodat ek die katjie kon red,” het Buffam aan plaaslike media gesê.

Buffam het Smudge ná ’n gespook eindelik in die hande gekry.

Die katjie het egter nie dadelik dankbaar voorgekom nie, sê Buffam. “Toe dit in die motor sit, het dit my vingers ’n paar keer probeer byt.”

Smudge is na die verkeersagentskap se depot geneem. Een van Buffam se kollegas het die kat daarna huis toe geneem waar hy skoongemaak en gevoer is.

Die katjie sal na die People’s Dispensary for Sick Animals (PDSA) geneem word, wat na sy mikroskyfie sal kyk in ’n poging om dit met sy eienaar te herenig.

As daar bevestig word dat Smudge ’n mannetjieskat is, sal dit na sy redder vernoem word: Little Gav.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Tanniepetoors ·

Ek hoop die katjie kry ‘n goeie mens-familie. My seun het ons Noela-kat as babakatjie in sy bakkie se enjin gekry toe hy op die ingewing van die oomblik besluit het om self na die water en olie vlakke te kyk. Sy is al twee jaar ‘n baie geliefde en bederfde deel van die familie.

Madelein ·

So bly die storie het n goeie einde. Was dit in Suid Afrika sou dit beslis nie so goed ge eindig het nie…..

Mieke ·

Madelein – soos hulle sê – dan het die katjie nie ‘n kat se kans gehad nie!!

Vinny ·

ag siestog, in suid afrika sou daai arme diertjie dit nooit oorleef het op die pad nie….

Sandra ·

Ek hoop as sy familie nie gevind word nie, dat Little Gav deur groot Gav aangeneem word. Dis kismet. Dit was beslis bestem dat hy die ou dingetie vind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.