Katolieke Kerk verskerp wette teen pedofilie

Argieffoto van Pous Franciskus bloot ter illustrasie. Foto: (AP Photo/pool/Alberto Pizzoli)

Pous Franciskus het Dinsdag die kerkreg van die Rooms-Katolieke Kerk (RKK) hersien om onder meer strenger strawwe vir priesters wat minderjariges seksueel misbruik, in te stel.

Katolieke priesters wat met minderjariges lol, sal nou van hul amp onthef én beboet word.

Die omvattendste hersiening van die kerkreg in byna 40 jaar volg ná ’n jare lange proses wat destyds deur pous Franciskus se voorganger Benedictus XVI van stapel gestuur is.

Dit volg nadat die RKK herhaaldelike klagtes van seksuele mishandeling deur priesters ontvang het. Dit sluit klagtes in dat die vorige bewoording van die RKK se kode verouderd en ondeursigtig was.

Pous Franciskus sê die doel van die hersiening van die kerkreg is om geregtigheid te laat geskied, die oortreder te help hervorm en vorige skandale reg te stel.

Daar word in die hersiene kode nie spesifiek verwys na seksuele misdrywe teen minderjariges nie maar eerder na “oortredings teen die sesde gebod wat owerspel verbied”.

Die hersiene kode bepaal dat ’n priester van sy amp onthef moet word en met ander “regverdige boetes gestraf moet word” indien hy só ʼn oortreding begaan.

Die teks het voorheen gespesifiseer dat die oortreder geskors moet word met bykomende strawwe indien die misdaad voortduur.

’n Nuwe toevoeging tot die kode lui dat ’n priester wat ’n minderjarige gereedmaak of aanmoedig om “hom of haar pornografies bloot te stel of aan pornografiese aktiwiteite deel te neem”, ook gestraf sal word.

Die veranderinge aan die kode, wat ook ander kwessies buite die bestek van seksuele misbruik insluit, tree in Desember in werking.

Die 1,3 miljard lede van die RKK is onderworpe aan die kode.

Sedert Franciskus in 2013 as pous ingehuldig is, streef hy daarna om die dekades lange probleem van seksuele misbruik deur priesters wêreldwyd te pak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Genis

Hulle moet tronk toe gaan, en vir lank ook..sies man

Sêmanet

Onthef van amp en boete??? Dis snaaks, sover ek weet is dit ‘n kriminele oortreding en behoort tronk toe te gaan, of in lande waar doodstraf is, sommer dit kry. Kyk watse groot hoe ha het almal gemaak van gays in kerke en gay predikers, maar kyk wat doen daai orige priesters.

Rian

N paar honderd jaar te laat.

Henryet

Hoeveel priesters gaan oorbly as skuldiges van hul amp ontslaan word, bitter min.

Ovelia

Dis nou tipies die Bybel in die 1 hand en die duiwel in die ander hand