Kenia-aanval: Dodetal styg tot 147

Foto: Yassin Juma/Facebook

Foto: Yassin Juma/Facebook

Die dodetal in Donderdag se aanval op die Garissa University College in Kenia het tot 147 gestyg.

Die aanval wat glo deur Al-Shabaab uitgevoer is, is die grootste nog deur dié Somaliese militantegroep in Kenia. Volgens die nasionale rampbeheersentrum is al vier die gewapende aanvallers ook dood. Die departement van binnelandse sake het gesê die aanval wat kort voor dagbreek begin het, was teen die einde van die dag verby.

Minstens 79 mense is in die aanval beseer en 587 mense is van die kampus ontruim. Die aanval het glo in ‘n moskee op die universiteitsgronde begin waar die aanvallers hulle glo as aanbidders voorgedoen het. Die aanvallers het glo “sonder onderskeid losgebrand op die universiteitsgronde” waarna ʼn skietgeveg met die polisie gevolg het volgens die inspekteur-generaal van polisie in Nairobi.

Die polisie het intussen ʼn reuse soektog van stapel gestuur na Mohamed Dulyadayn, die beweerde meesterbrein agter die aanval. Dulyadayn was glo nie een van die vier gewapende aanvallers nie. ʼn Beloning van 20 miljoen Keniaanse sjielings (sowat R2,5 miljoen) is uitgeloof vir inligting oor die voormalige Koran-onderwyser wat glo by Al-Shabaab aangesluit het en tot bevelvoerder gevorder het.

ʼn Senior Al-Shabaab bevelvoerder het telefonies aan dpa bevestig dat hulle verantwoordelik was vir die aanval. In September 2013 is 67 mense dood nadat Al-Shabaab ʼn aanval op die Westgate-winkelsentrum uitgevoer het. Dit was tot nou die ergste Al-Shabaab-aanval in Kenia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wilma ·

Hartseer dat daar nie geloofwaardig gerapporteer word nie..Ek het verstaan dat Christene o.a spesifiek geteiken is en dat die terroriste die moslems van dié wat hulle geloif in Jesus verklaar het; geskei het.????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.