Kenia-aanval: Dodetal styg tot 15

Foto: Yassin Juma/Facebook

Foto: Yassin Juma/Facebook

Minstens 15 mense is reeds dood nadat ’n groep van vyf gewapende mans die gebouekompleks van die Garissa University College in Kenia bestorm en beset het.

‘n Veiligheidskenner op die toneel het aan News24 gesê die liggame van die oorledenes was vol koeëlwonde, met sommiges wat tot tien keer geskiet is. Die oorledenes sluit veiligheidspersoneel in. Volgens berigte is 11 van die oorledenes studente.

Daar word egter vermoed dat die dodetal steeds kan styg, aangesien daar gedeeltes van die koshuise is wat nog nie deursoek is nie. ‘n Veiligheidsskenner, Nelson Simiyu, het aan News24 gesê die groot aantal wonde aan die oorledenes se liggame dui daarop dat die aanvallers na willekeur geskiet het.

Vier mense met ernstige beserings is per helikopter na ʼn hospitaal in Nairobi geneem. Nog helikopters is glo op pad na die toneel om beseerdes op te laai.

Garissa is nie ver van die grens met Somalië nie en die vermoede is dat Al Shabaab vir die aanval verantwoordelik is. Die aanval het net voor sonsopkoms plaasgevind toe militante die universiteit se koshuis geteiken het waar ongeveer 1 000 studente woon.

Kenia is op gereedheidsgrondslag vir aanvalle en universiteite word as waarskynlike teikens beskou. Die gebouekompleks was bewaak, maar die aanvallers het op die bewakers gevuur en daarin geslaag om die slaapeenhede te bereik.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.