Kenia, Nigerië herroep hoesstroop van SA

(Foto: Nafdac)

ʼn Dag ná Nigerië se voedsel-en-medisyne-owerheid (Nafdac) Benylin-hoesstroop vir kinders herroep het, het Kenia se regering dieselfde kennisgewing uitgestuur.

Dié hoesstroop word in Suid-Afrika deur Kenvue vervaardig. Die Benylin-handelsmerk is vroeër besit deur Johnson & Johnson voordat dit, saam met die res van die maatskappy se verbruikersbesigheid, sedert verlede jaar Augustus in ʼn afsonderlike entiteit genaamd Kenvue begin handel dryf het.

Volgens Nafdac het laboratoriumtoetse bevind die produk bevat onaanvaarbare hoë vlakke van diëtileenglikol.

Benylin-hoesstroop vir kinders word voorgeskryf vir die verligting van hoes en ʼn bors wat toegetrek het. Dit word ook gebruik vir hooikoors en ander allergiese toestande in kinders tussen twee en 12 jaar oud.

Die produk wat herroep word, is in Retreat, Kaapstad vervaardig in Mei 2021. Die vervaldatum is April 2024 met bondelnommer 329304.

“Diëtileenglikol is giftig vir mense wanneer dit ingeneem word en kan dodelik wees,” lui ʼn verklaring deur Nafdac. “Simptome sluit in maagpyn, vomering, diarree, onvermoë om te urineer, hoofpyn, gewysigde verstandelike toestand en akute nierprobleme wat tot die dood kan lei.”

Nafdac versoek enigiemand in besit van die betrokke produk om gebruik of verkope daarvan onmiddellik te staak en die produk by die naaste Nafdac-kantoor in te dien.

ʼn Woordvoerder van Kenvue het aan News24 gesê die maatskappy is in gesprek met Nafdac om meer inligting te bekom terwyl die maatskappy se eie assessering voortduur, insluitend om die egtheid van die betrokke produk te verifieer en die toetsmetodologie na te gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Martie ·

Dis mos weer ‘n generiese produk wat die mediese fondse aan ons wil afsmeer. Dis mos waarom ek nog al die jare se, geen generies vir my, dis nie dieselfde as die regte vervaardiger s’n nie. Jy moet iets verander want jy mag nie my patent net so gebruik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.