Kenia se landloop-heldin dood gevind

Agnes Tirop van Kenia (September 2019) (Foto: Mustafa Abumunes/AFP)

Agnes Tirop, ʼn belowende atleet van Kenia, is Woensdag dood aangetref met meswonde in haar maag.

Tirop (25) het vinnig begin naam maak: sy het twee keer ʼn brons medalje vir die 10 000 m ontvang, was in 2015 die wêreld se landloopkampioen en het vroeër vanjaar vierde in die 5 000 m geëindig by die Olimpiese Spele in Tokio.

Sy het verlede maand die vroue 10 km-wêreldrekord verbeter by die Road to Records Event in Duitsland met ʼn tyd van 30:01 – dit is 28 sekondes vinniger as die vorige rekord, het Atletiek Kenia gesê.

Tirop het in 2015 ook geskiedenis gemaak toe sy die tweede jongste gouemedalje-atleet geword het in die vroue landloop-kampioenskap naas Suid-Afrika se Zola Budd.

Atletiek Kenia het gesê sy is dood aangetref by haar huis in Iten in die weste van die land. “Kenia het ʼn juweel verloor. Sy was vinnig op pad om ʼn reus te word op die internasionale verhoog danksy haar merkwaardige prestasie op die baan. Ons probeer nog besonderhede oor haar afsterwe bekom.”

Keniaanse president Uhuru Kenyatta het ook ʼn huldeblyk aan die jong atleet gebring en die polisie gemaan om diegene wat vir haar dood verantwoordelik is, aan die pen te laat ry.

“Dit is ontstellend, uiters betreurenswaardig en baie hartseer dat ons ʼn jong en belowende atleet verloor het. In die jong ouderdom van 25 het sy alreeds vir ons land soveel eer gebring deur haar prestasie op die internasionale atletiek-verhoog,” het hy in ʼn verklaring gesê.

Nóg ʼn langafstand-atleet van Kenia, Hosea Mwok Macharinyang, ʼn lid van die land se rekordverbeterende landloopspan, is Saterdag dood aangetref. Hy het vermoedelik sy eie lewe geneem. Macharinyang (35) is dood aangetref in sy huis in Wes-Pokot. “Hy was ʼn briljante atleet,” het Jackson Pkemoi, Wes-Pokot se verteenwoordiger by Atletiek Kenia, aan AFP gesê. “Hy was toegewyd tot die sport en het jare lank Kenia in landloop verteenwoordig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

pompies ·

Kenia is een van die dae net so sleg as Suid Afrika wat moorde en korrupsie betref.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.