“Die dodetal het tot 48 gestyg,” het die Rooikruis in Kenia gesê. Tientalle swaar gewapende aanvallers het Sondagaand op die dorp toegesak. Hulle het die polisiestasie aangeval, twee hotelle aan die brand gesteek en in die strate losgebrand.
Die aanval het glo tot in die vroeë oggendure aangehou. Die aanval word voor die deur van Al-Sjabaab, wat glo bande het met Al-Kaïda, gelê. Volgens berigte het inwoners na wedstryde van die Sokkerwêreldbeker by hotelle gekyk toe die gewapende mans toegeslaan het.
Die rebelle het glo mans eenkant toe gevat en die vroue gedwing om te kyk hoe hulle doodgeskiet word. Die aanvallers het glo aan die vroue gesê dit is wat Keniaanse troepe doen aan mans in Somalië. Mpeketoni is sowat 100km ver geleë van die Somaliese grens.
Kenia het die afgelope maande deurgeloop onder aanvalle. Al-Sjbabaab het beloof om voort te gaan met aanvalle in weerwraak van die Keniaanse weermag se teenwoordigheid in Somalië. Minstens 67 mense is in September dood na gewapende rebelle ‘n winkelsentrum in Nairobi binnegestorm en op mense losgebrand het. – Sapa