Kennedy-tragedie: Seun se liggaam ook gevind

Maeve en Gideon Kennedy McKean. Foto: Facebook

Die liggaam van Maeve Kennedy McKean (40) se agtjarige seun, Gideon, is die week gevind, twee dae ná Maeve se liggaam ook gevind is.

Maeve is die kleindogter van die Amerikaanse senator Robert F. Kennedy en oudpres. John F. Kennedy is haar oom. Sy en Gideon het in die Chesapeake Bay-monding in die Amerikaanse state van Maryland en Virginia verdrink.

Maroela Media het vroeër berig die kuswag het verlede Donderdagaand inligting ontvang dat twee persone gesien is waar hulle in ʼn kano sukkel om na die oewer terug te keer naby Herring Bay.

David McKean, Maeve se man, het aan The Washington Post gesê sy vrou en seun het die Donderdag omstreeks 16:00 met die kano in die monding uitgeroei om ʼn bal te gaan kry wat in die water beland het, waarna hulle nie daarin kon slaag om terug te roei nie.

Die kuswag het in ʼn verklaring gesê dat daar langer as 26 uur ʼn uitgebreide soektog in die lug, water en op die grond was, maar dat geen teken van die ma en die seun gevind is nie.

Gideon se liggaam is meer as 3 km suid van sy ouma se huis in Shade Side, Maryland, gevind. Maeve se liggaam is 610 m van haar seun se liggaam gevind.

Die soektog na ma en seun het vyf dae lank geduur en onderwater sonartegnologie is ook ingespan.

“My hart is gebroke, maar ons sal vashou aan die genade van God, en ons sal Maeve en Gideon se hoop, energie en passie laat voortleef,” het Kathleen Kennedy Townsend, Maeve se ma, gesê.

Kathleen, voormalige goewerneur van Maryland, het vroeër in ʼn verklaring gesê haar dogter het haar lewe daaraan toegewy om die kwesbaarstes in die samelewing te help.

Die Kennedy-familie is in 2019 ook deur tragedie getref toe Saoirse Kennedy Hill (22), ook ʼn kleindogter van Robert F. Kennedy, ʼn oordosis medikasie geneem het.

Die Kennedy-familie het oor die dekades talle tragedies beleef. John F. Kennedy, Amerikaanse president, is op 22 November 1963 in Dallas, Texas, in ʼn sluipmoordaanval doodgeskiet. Sy broer, Robert F. Kennedy, is op 6 Junie 1968 ook in ʼn sluipmoordaanval in Los Angeles doodgeskiet.

John F. Kennedy jr., sy vrou Carolyn, en skoonsuster Lauren Bessette is in 1999 dood toe die ligte vliegtuig waarin hulle was in die see geval het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marius ·

Op die ingewing van die oomblik . Bekend of nie dit is hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.