Kenneth Kaunda in hospitaal

Oudpres. Kenneth Kaunda van Zambië (Foto: STEPHANE DE SAKUTIN / AFP)

Oudpres. Kenneth Kaunda van Zambië is in ʼn hospitaal opgeneem.

Die 97-jarige Kaunda se kantoor het Maandag in ’n verklaring gesê dit gaan nie goed met die oudpresident se gesondheid nie en hy word tans in ʼn militêre hospitaal in die Zambiese hoofstad, Lusaka, behandel.

Geen verdere besonderhede omtrent Kaunda se toestand is bekend gemaak nie hoewel landsburgers sowel as die internasionale gemeenskap gevra is om te bid vir die oudpresident se herstel.

Kaunda het Zambië 27 jaar lank regeer en het die leisels oorgeneem nadat die land in Oktober 1964 onafhanklikheid van Brittanje verkry het.

Kaunda was aanvanklik ’n gewilde leier onder Zambiese burgers hoewel hy later al meer outokraties geword en alle opposisiepartye verbied het.

Hy is uiteindelik tydens die eerste veelpartyverkiesing in 1991 uitgestem en vervang deur Fredrick Chiluba.

Edgar Lungu (64) is tans die president van Zambië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.