Kenny Rogers oorlede

Kenny Rogers in Oktober 2017. Foto: (AP Photo/Mark Humphrey, File)

Die sanger en akteur Kenny Rogers is in die ouderdom van 81 oorlede.

Rogers is by sy huis in Sandy Springs in die Amerikaanse deelstaat Georgia dood. Hy het hospice-sorg ontvang en is aan natuurlike oorsake dood.

Die sanger het drie Grammy-toekennings gewen, miljoene albums verkoop en was die ster van TV-films gegrond op “The Gambler” en ander liedjies.

Rogers het in 2017 op ouderdom 79 eers afgetree. Hy het sy deurbraak gekry toe hy in 1966 gevra is om by ʼn folkgroep, die New Christy Minstrels, aan te sluit. Die groep se naam is later na First Edition verander en hul eerste treffer was “Just Dropped In (To See What Condition My Condition Was In)”.

Rogers het in 1974 op sy sololoopbaan begin fokus en sy eerste treffer “Lucille” het in 1977 gevolg. Die liedjie het ook vir hom sy eerste Grammy-toekenning besorg. Die Grammy-bekroonde treffer “The Gambler”, wat deur Don Schlitz geskryf is, het in 1978 die lig gesien.

Kenny Rogers en Dolly Parton in Oktober 2017 in Nashville. Foto: (Photo by Laura Roberts/Invision/AP)

Van sy ander treffers sluit in “You Decorated My Life”, “Every Time Two Fools Collide” met Dottie West, “Don’t Fall In Love With a Dreamer” met Kim Carnes, en “Coward of the County”. Een van sy grootste suksesse was “Lady” wat deur Lionel Richie geskryf is.

Rogers het oor die jare talle duette met vrouekunstenaars opgeneem waarvan die bekendste seker “Islands in die Stream” met Dolly Parton is. Die Bee Gees se Barry Gibb het die treffer geskryf. Rogers en Parton het hierna talle duette opgeneem, insluitend hul laaste een “You Can’t Make Old Friends” wat in 2013 vrygestel is.

Rogers se familie het aangedui dat hulle ʼn private gedenkdiens beplan uit kommer vir die Covid-19-krisis en dat ʼn openbare gedenkdiens op ʼn latere stadium gehou sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
AmY

RIV, Kenny.

netekalleen

Rus in vrede Kenny. Jou musiek sal die beste bly

Salome

Kenny het pragtig gesing en sal hom onthou as een van die bestes. RIP