Kêrel erken glo moord op Petito

Gabby Petito en Brian Laundrie tydens hul toer deur VSA. (Foto: North Port Police Department)

Die kêrel van die vermoorde Amerikaanse vrou Gabby Petito (22) het in ʼn brief erken dat hy haar vermoor het. Hy het dié brief vermoedelik geskryf net voordat hy sy eie lewe geneem het.

Brian Laundrie (23) se oorskot is op 20 Oktober in die Carlton-reservaat in die Amerikaanse deelstaat Florida aangetref. Hy het homself etlike weke ná Petito se moord in die kop geskiet. Die polisie het weke lank na hom gesoek nadat hy ʼn persoon van belang geword het in Petito se moord.

Die polisie het ʼn paar besittings – waaronder ʼn notaboek – saam met Laundrie se liggaam gevind.

Die FBI het Vrydag bevestig hulle het ʼn brief in die notaboek gekry waarin Laundrie verantwoordelikheid vir Petito se dood aanvaar.

Die FBI-ondersoek het nie enige ander verdagte(s) geïdentifiseer wat met Petito se moord verbind kon word nie.

Maroela Media het vroeër berig Laundrie en Petito het in Julie met ʼn reis deur Amerika begin. Hulle het deurgaans foto’s en video’s van idilliese landskappe op sosiale media geplaas.

Petito se familie het egter in September onraad vermoed toe Laundrie alleen met die paartjie se kampeerwa teruggekeer het. Laundrie het met sy tuiskoms in North Port, Florida, geweier om inligting aan die polisie te verskaf oor die twee se doen en late, waarna hy verdwyn het en ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is.

Petito se liggaam is in September in ʼn nasionale woud in die deelstaat Wyoming gevind. Sy is verwurg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jacobus ·

Met alle respek! Daar is belangriker sake om aandag aan te gee. Die totale gemors plaaslik hoort voorrang te kry! Die publisiteit aan sulke stories behoort tesame met dié aan EFF geskraap te word.

ONTPS ·

As jy nie belangstel daarin nie, moet dit dan nie lees nie. Dan hoef jy ook nie moeite te doen om daarop kommentaar te lewer nie

Genis ·

Die nuus ongelukkig nie net vir jou bedoel nie, daar is n wye gehoor…

Jean ·

Dit is hoekom Maroela Media ‘n opsie bo gee om net SA nuus te kan sien.

modiglianigirl ·

Ek dink nie jy kan bepaal wat nuuswaardig is of nie Jacobus. Ons het almal vrye reg en keuse om te besluit wat ons wil lees of nie. Jy het dieselde reg Jacobus. Beweeg dan weg van internasionale nuus en realiteit as jy dit so verkies.
Respek is duidelik ‘n konsep waarmee jy óók nie vertroud is nie.

Maggies ·

Is só dankbaar dat die waarheid uiteindelik vrygestel is. Nou kan haar ouers berusting vind in hierdie waarheid wat almal in elk geval gedink het.

Sê maar net ·

Twee pragtige jongmense se lewens is op so wrede wyse deur die bose geneem. So belangrik dat mens vir jou kinders bid. Dat hulle die Here sal ken en met die Heilige Gees vervuld sal wees. Ek hoop hulle ouers kan nou berusting vind en dat God hul emosioneel sal versterk en heelmaak.

Christine ·

Twee pragtige jongmense wie se lewens deur die bose geneem is? Wat ‘n klomp bollie! Hoe boos was daai jongman om haar te vermoor, te versteek, alleen terug te keer en te lieg oor waar sy is, te ontsnap en toe sy eie lewe te neem? Moenie hom probeer verontskuldig nie! Niks pragtig aan hom nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.