Kersmark-tragedie: Duitse polisie het dalk ‘verkeerde man’

Minstens 12 persone is op 19 Desember 2016 dood en 48 beseer toe ʼn vragmotor deur ʼn skare by ʼn Kersmark in Berlyn gejaag het Foot: AP Photo/Michael Sohn

Minstens 12 persone is op 19 Desember 2016 dood en 48 beseer toe ʼn vragmotor deur ʼn skare by ʼn Kersmark in Berlyn gejaag het Foot: AP Photo/Michael Sohn

Owerhede in Duitsland het Dinsdag hul kommer uitgespreek of hulle die regte verdagte in hegtenis geneem het nadat ʼn vragmotor deur ʼn besige Kersfeesmark in Berlyn gejaag het.

Maroela Media het vroeër berig 12 persone is dood en 48 beseer toe die vragmotor deur die gewilde Kersfeesmark buite die Kaiser Wilhelm-gedenkkerk naby die Berlynse dieretuin gejaag het. Talle toeriste en plaaslike inwoners het die mark Maandagaand besoek toe die voorval plaasgevind het.

Kansellier Angela Merkel het Dinsdag bevestig die land neem aan dit was ʼn terreur-aanval.

Die polisie het ʼn asielsoeker van Pakistan kort ná die voorval in hegtenis geneem, maar hy het ontken dat hy enigsins betrokke was, het Thomas de Maiziere, minister van binnelandse sake, gesê. Die man het Duitsland verlede jaar op 31 Desember betree en het in Februarie in Berlyn aangekom.

Klaus Kandt, hoof van die polisie in Berlyn, het Dinsdag gesê dit is nie duidelik of die man, wat in aanhouding is, regtig die bestuurder was nie. “Ons kon dit nog nie bevestig nie,” het hy aan verslaggewers gesê.

Die polisie in Berlyn het intussen persone gemaan om “veral bedag te wees” en enige “verdagte gedrag” aan te meld by ʼn spesiale hulplyn.

Merkel het in ʼn verklaring, wat wyd uitgesaai is oor Duitse televisie, gesê sy is “geskok en uiters hartseer”. “Daar is nog baie wat ons nie definitief oor hierdie voorval weet nie. Maar ons moet, soos dinge nóú staan, aanvaar dit was ʼn terreur-aanval.”

Merkel, wat veroordeel word omdat sy groot getalle migrante in die land toelaat, het die kwessie bespreek dat ʼn asielsoeker moontlik verantwoordelik kon wees. “Ek weet dit sal vir ons almal moeilik wees as ons moet uitvind dit was wel hierdie persoon wat beskerming en asiel in Duitsland kom soek het. Dit sal veral erg wees vir die talle Duitsers wat hard werk om vlugtelinge daagliks te help en vir die persone wat regtig ons hulp benodig en ʼn poging aanwend om by ons land aan te sluit.”

Owerhede het ʼn man ongeveer 2 km van die toneel in hegtenis geneem op vermoede dat hy die vragmotor bestuur het. Beeldmateriaal van die voorval wys hoe die persoon, met sy kop bedek met ʼn wit laken, kort ná die voorval teen ʼn polisievoertuig gestamp word. Tagesspiegel-koerant in Berlyn het berig die polisie is vertroud met die man vir kleiner misdade.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Oom Kalahari ·

Hhhhmmm……..ja Kanselier Merkel, kom ons kyk wat die toekoms gaan inhou en bepaal met jou, Pres. Obama en Theresa May se besluite oor immigrante invoer en huisves en populasie uitbrei. Hoevele onskuldige landsburgers moet nog deur geweld geteiken word en geliefdes in die prosesse verloor. Mag God hierdie arme onskuldige mense se families en vriende dra deur hierdie tyd van rou, waar hul familie lede afgestaan het deur ‘n daad wat gepleeg is deur gevoeloosheid en waar hul beskore was om ‘n Kerstyd in liefde en vrede te kon saambring.

Jan ·

Ek sien die DA ondersteun Dlamini Zuma se denke betreffende vrye toegang in lande in Afrika, maar daar moet darem ‘n fasiliteringstelsel wees. Wat dit ook al in die Afrika konteks mag beteken.

jaco ·

ek kan nie verstaan waarom moslems, al is hulle ook vlugtelinge, hoegenaamd in amerika of Europa gaan bly nie. honderde goed wat in amerika en Europa aanvaarbaar is, soos om varkvleis te eet, homoseksueel te wees en kaal op die strand te lê, is alles sonde en onwettig en selfs met die dood strafbaar in moslemlande. so hoekom verhuis na n land waar jy glad nie gaan inpas nie? wat ek ook nie verstaan nie, is dat militante moslems wat onder die dekmantel van refugee status in Europa en Amerika inkom, later die mense daar aanval as n manier om hulle te “straf” vir hulle sondes. Hoekom? Jy gaan nie “siele wen” vir Islam deur so op te tree nie. En al doen hulle ook net vreedsame sendingwerk om die boodskap van Islam te versprei, gaan hulle ook nie ver kom nie. Europa gee nie meer om oor godsdiens nie. dis tot n groot mate n post-christelike Europa,. Hulle was moeg vir die reels van die christelike geloof, so waarom sal hulle dan nou vir Islam val, wat honderd maal meer reels het?

Henry ·

Die meerderheid van Europa se inwoners is laaankal post-godsdiens, post-gelowig en wat ookal.

John ·

Lyk dus of ‘post-‘ in die toekoms vooraan alle woorde gevoeg sal kan word… soos in ‘post-waarheid’… en al wat sal oorbly is ‘post-lewe’… Maar niemand gee blykbaar meer om waar dit sal wees nie…

Mickey ·

Ek verstaan nie die mense nie – hulle word gewaarsku oor sulke voorvalle en nou is hulle nie seker of hulle die regte ou het nie. Dis ‘n wêreld met die wonderlikste tegnologie. Waar is hulle veiligheidskameras by sulke plekke? As die goed in jou land gebeur sit jy tog kameras op – sekerlik het hulle geld daarvoor – hulle het geld vir allerhande onnodige goed.

Therese van Schalkwyk ·

Angela Merkel sê sy is “geskok en uiters hartseer”, maar wanneer sy en haar regering ingelig en gewaarsku word oor júis hierdie tipe gebeure, word die boodskappers gebrandmerk as “ekstreem-regse populiste”.
Om na die tyd blomme op die toneel van die tragedie te rangskik en kerse te brand, troos geensins die families van die slagoffers nie.
My minagting jeens ruggraatlose Westerse leiers styg by die dag.

JoeV ·

Hoekom nou ‘n man in hegtenes neem? Dit was dan ‘n trok. Verwyder net daardie tiepe trokke uit die land.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.