Kersparade-ongeluk word nie met terreur verbind nie

‘n Afgesperde straat in Waukesha. (Foto: Getty Images via AFP)

Daar is nie enige teken dat terrorisme met ʼn voorval in Wisconsin in die VSA verbind kan word waar ʼn motor deur versperrings gebars en in ʼn Kersparade ingeploeg het nie.

Maroela Media het vroeër berig minstens vyf persone is Sondagaand dood en meer as 40 beseer in die voorval in Waukesha, Wisconsin.

Die bestuurder van ʼn rooi sportnutsvoertuig het in ʼn groep mans, vroue en kinders ingeploeg. Daar was onmiddellik kommer dat dit ʼn doelbewuste aanval was. CNN en NBC het egter albei berig wetstoepassers sê daar is nie enige verbintenis met terrorisme in dié stadium nie. Verskeie plaaslike mediahuise het berig ondersoekbeamptes sê daar is tekens dat die bestuurder van ʼn ander voorval gevlug het.

ʼn Persoon wat moontlik die polisie in hul ondersoek kan bystaan, is in aanhouding. Die voertuig is ook geskut en daar is nie enige ander bedreiging vir die gemeenskap nie.

NBC het die man as Darrell Brooks geïdentifiseer, ʼn 39-jarige man van Wisconsin. Hy word tans ondervra, maar is nog nie aangekla van enige misdaad nie en word ook nie ʼn verdagte genoem nie.

‘n Verlate straat in Waukesha ná die voorval tydens ‘n Kersparade. (Foto: Getty Images via AFP)

Corey Montiho, ʼn distriksraadslid van ʼn skool in die woonbuurt in Milwaukee, was by ʼn nabygeleë restaurant toe hy gehoor het sy dogter se jong dansgroep is getref. “Daar het oral pom-poms en skoene rondgelê en warm sjokolade wat gemors is,” het hy aan die Milwaukee Journal Sentinel gesê. “Ek het van een liggaam na ʼn ander gegaan om my dogter te vind. My vrou en twee dogters is byna getref.”

Burgemeester Shawn Reilly het dit ʼn “verskriklike, sinnelose daad” genoem. Wisconsin-goewerneur Tony Evers het opdrag gegee dat vlae reg oor die staat halfstok sal hang. “Ons bly bid vir die Waukesha-gemeenskap en die kinders, geliefdes, en bure wie se lewens vir altyd verander is,” het Evers Maandag op Twitter gesê.

Skool-orkeste en ander groepe het aan die parade deelgeneem met talle toeskouers in Mainstraat.

Elf volwassenes en 12 kinders is na ses hospitale in die omgewing geneem, het Steven Howard, hoof van die brandweer, gesê.

Tydens die voorval het ʼn polisiebeampte op die voertuig gevuur in ʼn poging om dit tot stilstand te bring, het owerhede bygevoeg.

Skole en die stadsaal bly Maandag gesluit.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rupert Ashford ·

Interessant dat AFP, CNN en NBC dit so vinnig kan se in hierdie geval. Maar die Jan 06 storie en Amerikaanse ouers wat ongemaklike vrae vra by skoolraad vergaderings word vinnig as terrorisme dade gebrandmerk…

Emile ·

Selfde met Kyle Rittenhouse, die flinkse Linkse nuus kanale soos CNN en NBC het dadelik gese dat hy n terroris is ens maar hulle beskerm hierdie mannetjie(Darrell Brooks) omdat hy deel van BLM is.

Hennie ·

Geen terrorisme nie?? Net dat hy homself met blm vereenselwig en homself n Black supremacist noem

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.