Kim Kardashian nou ʼn miljardêr, sê Forbes

Kim Kardashian West en Kanye West tydens 2020 se Vanity Fair Oscars-partytjie. (Foto: Jean-Baptiste Lacroix/AFP)

Die realiteitstelevisiester, sosialemedia-voorloper en sake-eienaar Kim Kardashian West is amptelik ʼn miljardêr, volgens ʼn beraming van Forbes. Sy maak haar debuut op die eksklusiewe internasionale lys slegs ʼn jaar ná haar jonger sussie, Kylie Jenner, van die lys afgeval het.

Kardashian West se geld kom uit TV-inkomste en onderskrywingsooreenkomste, aldus die tydskrif, asook haar twee leefstyl-handelsmerke.

Die ster se welvaart het met meer as $200 miljoen vermeerder sedert Oktober. Forbes reken haar waarde het van $780 miljoen verlede jaar Oktober tot meer as $1 miljard toegeneem – slegs vyf jaar ná die tydskrif aanvanklik berig het sy het haar eerste $51 miljoen gehaal.

KKW Beauty is in 2017 van stapel gestuur en kosmetiese produkte word gereeld in vennootskap met haar vier bekende sussies bekendgestel. Die produkte is wyd deur sosiale media bemark. Kardashian West het 69,7 miljoen Twitter-volgelinge en 213 miljoen volgelinge op Instagram. Teen 2018 was die maatskappy se inkomste sowat $100 miljoen, aldus Forbes, wat die lys van 2 775 miljardêrs bekendgemaak het.

Die 40-jarige se jongste projek, Skims, is in 2019 van stapel gestuur om onderklere en slenterdrag in haar bekende minimalistiese styl aan te bied – dit was ʼn winsgewende projek in ʼn tuiswerk-era.

Die maatskappy (Kardashian besit die meerderheidsaandeel) het nog nie sy inkomstesyfers bekendgemaak nie, maar Forbes bereken die waarde op meer as $500 miljoen.

Jenner, die jongste lid van die Kardashian-familie, het in 2020 van Forbes se lys afgeval ná die tydskrif beweer het die 23-jarige het die grootte van haar eie kosmetika-onderneming oordryf. Sy is in 2019 in die ouderdom van 21 as die jongste selfgemaakte miljardêr aangewys.

Die familie se treffer-realiteitsreeks Keeping Up With the Kardashians sal na verwagting aan die einde van dié jaar tot ʼn einde kom, ná 20 seisoene. Kardashian West het vroeër vanjaar ook gesê sy en kletsrymer Kanye West se paaie skei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanR ·

Wonderlik hoe jy stink ryk kan word sonder om ‘n stukkie eintlike werk te doen!

Deon ·

Dis waar… Oppervlakkigheid van die wereld se mense, is geld regtig SO baie werd?

Piet ·

Fantastiese ekonomiese stisteem wat ons hier het. Eks seker sy het baie hard gewerk vir al daai nulle. En jy kry mense wat dit tot die dood toe sal verdedig….

isabelle ·

sy bly maar van die vrouens met die beste ”plastic surgery” wat ek nog gesien het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.