Kind (5) al oorlewende ná kabelkarongeluk

Italiaanse nooddienste by die wrak van die kabelkar. (Foto: Vigili del Fuoco / AFP)

’n Vyfjarige seuntjie veg om sy lewe in ’n hospitaal in Italië nadat sy ouers, grootouers en tweejarige boetie almal dood is toe ’n kabelkar se kabel Sondag vermoedelik gebreek en dit die kant van ’n berg in die noorde van dié land getref het.

Die seuntjie is die enigste oorlewende nadat ’n negejarige kind intussen aan sy beserings beswyk het. Die voorval het nou altesame 14 mense geëis.

Die seuntjie het ernstige beserings aan sy skedel, bors en buik tydens die voorval opgedoen. Hy het ook verskeie beenbreuke.

’n Woordvoerder van die Citta della Salute-hospitaal het aan AFP gesê die kind is in ’n stabiele toestand nadat hy geïntubeer en verdoof is hoewel sy toestand steeds ernstig is.

Die seuntjie, wie se ouers albei in Israel gebore is, maar ten tyde van die voorval in Italië gewoon het, se tante en ander grootouers is by die hospitaal.

Die presiese omstandighede rakende die voorval word intussen ondersoek.

“Daar is verskeie aspekte van hierdie saak wat beslis uitgeklaar sal word,” het Enrico Giovannini, minister van vervoer, gesê nadat hy Stresa besoek het.

Aanklaers ondersoek tans moontlike aanklagte van strafbare manslag. Die Italiaanse regering het intussen ook ’n ondersoek na die voorval gelas.

Maroela Media het vroeër berig die voorval het Sondag omstreeks 12:30 in die vakansiedorp Stresa aan die oewer van die Maggiore-meer in die Piedmont-streek plaasgevind.

Die kabelkar het luidens aanvanklike berigte na die grond getuimel nadat ’n kabel gebreek het. Dít terwyl ’n lid van die nooddienste gesê het dat die veiligheidsrem ten tyde van die voorval buite werking was.

“Dit is alles aannames, maar ek dink daar was ’n dubbele probleem: die kabel het gebreek en die noodrem het nie gewerk nie,” het die streekhoof van die Alpe-reddingspan, Matteo Gasparini, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Gert K

Dit is so tragies, en soveel te meer as daar kindertjies betrokke is. Ons bid vir jou kleinman!