Kind onder ses wat in Britse skietery sterf

Polisielede op die toneel in Plymouth, Engeland, waar die skietery plaasgevind het. (Foto: Shoker Abobeker/Twitter)

Ses mense, onder wie ʼn kind jonger as tien asook die vermeende aanvaller, is dood in ʼn skietery Donderdag in Plymouth, Engeland.

Die sterftesyfer maak dit die ergste massaskietery in die Verenigde Koninkryk die afgelope dekade.

Polisiebeamptes, dokters en nooddienswerkers is kort ná 18:00 Britse tyd (19:00 SA tyd) na Biddickrylaan in die Keyham-gebied van Plymouth ontbied waar twee mans en twee vroue op die toneel gesterf het. Die vermeende aanvaller is ook op die toneel dood en nog ʼn vrou het later in ʼn hospitaal beswyk.

“Almal het vermoedelik weens skietwonde gesterf,” het die polisie gesê.

Verskeie ander slagoffers is vir beserings na hospitale gehaas.

Die skietery is as ʼn “kritieke voorval” bestempel, maar volgens die polisie hou dit nie met terreur verband nie.

Dit is in dié stadium egter onduidelik hoe die slagoffers en die skieter met mekaar verbind word en besonderhede oor die verloop van gebeure in dié stil dorp in die suidweste van Devon is vaag.

“Die polisie benadruk dat dit nie ʼn terreurverwante voorval is nie,” het die Devon- en Cornwall-polisie gesê.

Daar word tans ook nie na enige ander betrokkenes gesoek nie.

Volgens die polisie duur die ondersoek voort en hulle het ʼn beroep op mense met videomateriaal van die voorval gedoen om dit nie aanlyn te deel nie en ook nie oor die gebeure te bespiegel nie. Tientalle ondersoekers, geklee in wit oorpakke en gewapen met kameras, het die toneel gefynkam. Inwoners is aanvanklik ook nie toegelaat om na hul huise terug te keer nie.

Die minister van binnelandse sake, Priti Patel, het die skietery as “skokkend” bestempel en gesê haar gedagtes is by diegene wat deur die voorval geraak is. Sy het egter geen besonderhede verskaf oor wat presies gebeur het nie.

Luke Pollard, ʼn LP van Plymouth Sutton en Devonport, sê die voorval was “ongelooflik verskriklik” en dat hy platgeslaan is deur die nuus dat een van die slagoffers ʼn kind is.

Britse media het berig inwoners het harde klapgeluide en skote gehoor voor polisiebeamptes op die gebied toegesak het. Volgens een ooggetuie het die skieter die deur van ʼn huis oopgeskiet en losgebrand. “Hy het al skietende uit die huis gehardloop en op ʼn paar mense gevuur.”

Nog ʼn ooggetuie sê hy het om ʼn hoek gestap en hom “vasgeloop teen ʼn ou met ʼn haelgeweer” wat heeltemal in swart geklee was.

Massaskietery in Engeland is skaars en die meeste polisiebeamptes is nie eens gewapen nie.

BBC berig die laaste massaskietery in Brittanje was in 2010 toe taxibestuurder Derrick Bird 12 mense in Cumbria vermoor het.

Die suidweste van Engeland is boonop ʼn gewilde vakansiebestemming en word beskou as ʼn uiters rustige deel van die land.

Plymouth, die streek se grootste stad met sowat 262 000 inwoners, is ook die tuiste van die grootste vlootbasis in westelike Europa. Kernkragduikbote en groot oorlogskepe is onder meer daar gevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tanniepetoors

Die hele wêreld word geestelik versteurd om dit sagkens te stel.

ES

Dis omdat meeste van die polisie nie bewapen is nie dat dit langer vat om te reageer op sulke noodsituasies.

Hennie

Dit maak geen sin nie, Engeland is dan ‘n “gun free” zone.

Werner

Dit is die gevaar as die wetsgehoorsames nie wapens het nie.Dan word hulle afgemaai soos vlië

Sarel

In SA en Amerika leef mense al daarmee saam .
1ste geval word gewoonlik opgevolg want die idee
word niu in mense se koppe geplant…