Kind sterf in Kersvader se arms

Eric Schmitt-Matzen boots Kersvader al vir ongeveer ses jaar na (Foto: NBC)

Eric Schmitt-Matzen boots Kersvader al vir ongeveer ses jaar na (Foto: NBC)

ʼn Terminaal siek vyfjarige seun van Tennessee in die VSA is onlangs in “Kersvader” se arms oorlede.

Eric Schmitt-Matzen, wat Kersvader al vir ongeveer ses jaar naboots, het Maandag aan BBC vertel hy het pas by die huis aangekom toe hy ʼn oproep van een van die plaaslike hospitale se verpleegsters kry.

Schmitt-Matzen werk al ʼn geruime tyd saam met dié hospitaal om siek kinders se gemoed op te vrolik wanneer hy een keer per jaar Kersvader-besoeke aan die hospitaal aflê.

“Ek het gesê ek is op pad, ek wil net eers my Kersvader-klere aantrek. Sy het gesê daar is nie genoeg tyd nie, net my kruisbande is genoeg en dat ek dadelik moet kom,” sê hy.

Sedert hy dié figuur naboots, spog hy met ʼn natuurlike spierwit “Kersvader-baard”.

“Toe ek by die hospitaal aankom, het die seuntjie se ma vir my ʼn speelding van PAW Patrol (ʼn televisiereeks) gegee en beveel dat ek dit vir hom moet gee. Ek het vir almal gesê as hulle dink hulle gaan huil, moet hulle asseblief buite staan omdat ek ook sal begin huil en dan nie my werk kan doen nie.”

Die familie het aan die buitekant van die hospitaalkamer se venster gestaan en kyk toe Schmitt-Matzen die vertrek binnegaan. “Toe ek instap, het hy net daar gelê en was baie swak. Dit het byna gelyk of hy enige oomblik aan die slaap gaan raak. Ek het op die bed gaan sit en gevra: ‘Wat hoor ek dat jy Kersfees gaan misloop? Daar is nie ʼn manier nie! Jy is my nommer 1-elfie.’

“Hy het opgekyk en gevra: ‘Is ek?’ Ek het gesê: ‘Ja.’ Toe gee ek vir hom die present. Hy was byna te swak om dit oop te maak, maar toe hy sien wat dit is, het hy geglimlag en weer gaan lê. ‘Hulle sê ek gaan doodgaan,’ het hy vir my gesê. ‘Hoe sal ek weet waarheen ek gaan?’ Ek het gesê hy moet net sê hy is die nommer 1-elfie en dan sal hulle hom inlaat. Dit was genoeg.”

Die vyfjarige het daarna gesê hy wil Kersvader vir ʼn laaste keer ʼn guns vra. “Ek het hom styf vasgedruk, maar voor ek iets kon sê, het hy gesterf. Almal buite die kamer het besef wat gebeur het, en sy ma het ingehardloop en geskree: ‘Nee, nee! Nog nie nou nie!’ Ek het die hospitaal daarna verlaat.”

Schmitt-Matzen sê selfs sy jare in die weermag kon hom nie voorberei op die gebeure nie, en hy het dit selfs oorweeg om sy amp as Kersvader te verlaat. “My vrou, wat Kersvader se vrou speel, moes die daaropvolgende dag alleen die familie gaan besoek. Ek kon dit bloot nie doen nie. Toe ek eindelik weer die moed kry om aan te gaan, het ek besef Kersvader speel ʼn groot en belangrike rol in hulle lewe. En ook in myne, daarom gaan ek voort.”

Dit is nie bekend watter siekte die vyfjarige gehad het nie. Sy ouers wou ook nie met oorsese media praat nie.

Lees sy volledige inskrywing op Facebook.

Bron: BBC, Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Azuni ·

Moennie my so laat huil in die middel van die dag nie. Baie hartseer storie, maar ook so mooi terselfde tyd.

Denise ·

Dit is baie hartseer ek sal dit nooit verstaan nie en tob weke daaroor ek kan nog nie die seuntjie wie se ma hom en sy sussie alleen gelos het uit my gedagtes kry nie en nou die ou klein seuntjie ek het nie meer trane nie!!!! Kinders is vir my so kosbaar!!!!

Jean ·

Wat ‘n wonderlike liefdesdaad, julle het sy laaste droom verwesenlik, julle het hom met ‘n glimlag laat sterf . DANKIE vir onbaatsugtige diens deur mense soos julle. Sterkte aan die ouers wat hom hierdie laaste kans gegee het. Dis baie hartseer, maar ek kon glo dit was baie spesiaal vir die kleinding.

Pj ·

Dis baie erg, ai shame ek wonder wat was die laaste guns wat hy wou vra….Ag liewe Vader bewaar die ou seuntjie saam met jou……

Ano ·

Ek soek al heeldag REDE om te huil – en hier is dit! SJOE dis hartseer :(

maraai ·

Sjoe dit is hartseer. Rus in vrede kleine seun. Sterkte vir die familie.

m ·

Sjoe dink net hoe moes “kersvader” gevoel het. Dis baie emosioneel.

Johann cb ·

Ai, dit is genoeg om mens te laat wakker lê van hartseer vannag. Ons kla so maklik, al het ons soveel om voor dankbaar te wees. Baie sterkte aan die familie.

Hartseer ·

Die dood van ‘n kind is hartverskeurend. Die hartseerste is egter dat mens nie in die hemel kom net omdat kersvader vir jou ‘n “passphrase for the pearly gates” gegee het nie. Klink nie of hierdie seuntjie geweet het van God se groot genade en die effek van Christus se kruisdood nie.

Ai ·

Ai, dit is waaraan ek ook dink. So erg dat iemand die kind nie van Jesus kon vertel het in sy laaste oomblikke nie.

sakkie ·

My sieninge ook die kind het gevra waar gaan hy heen hoekom nie vir hom gese hy gaann na JESUS

weesWys ·

Ek glo ook sy hartjie het gesmag na die ware vrede en sekuriteit om God die Vader en Sy Seun Jesus Christus te ken. Daarom sy vraag: “Hoe sal ek weet waarheen ek gaan?” Sy onsekerheid is ‘n groot droefheid… As hierdie oom Kersvader tog maar volgende keer kan antwoord dat Jesus die Weg, die Waarheid en die Lewe is…dat Hy hom Self sal kom haal na Sy wonderbare ewige hemel…dat hy nie hoef te vrees nie. Dank die Heer hierdie outjie is nou in blydskap by Hom!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.