Kind sterf ná ‘gooiery’ in judo-klas

Foto ter illustrasie. (Foto: Ozan Safak/Unsplash)

ʼn Sewejarige Taiwannese seun wat langer as twee maande in ʼn koma was nadat hy telkemale tydens ʼn judo-klas op die vloer gegooi is, is Dinsdag oorlede.

Die seun, wat deur sy familie geïdentifiseer is as Huang, is op 21 April na die Feng Yuan-hospitaal in Taichung geneem, nadat hy na bewering 27 keer deur sy judo-afrigter rondgegooi is.

“Hy was vir 70 dae in ʼn koma met bloeding op sy brein en asemhalingsprobleme. Hy het ook veelvuldige orgaanversaking ontwikkel voordat sy ouers besluit het om hom van die lewensondersteunende masjiene af te haal,” het die hospitaal se woordvoerder gesê.

Die oorledene se afrigter is vroeër vandeesmaand in hegtenis geneem op aanklag van aanranding en die gebruik van kinders om misdade te pleeg.

Die afrigter het glo die ander kinders in sy klas opdrag gegee om hul judo-vaardighede op Huang te oefen, al het Huang self geen judo-opleiding gehad nie. Die verdagte het toe voortgegaan om tegnieke op die slagoffer te oefen nadat hy glo gesê het die afrigter is ʼn idioot.

Volgens Huang se familie is hy sowat 27 keer op sy kop op die grond neergegooi. Die aanklaer kon egter nie hierdie bewerings bevestig nie.

Die Central News Agency van Taiwan berig dat Huang die afrigter menige kere gesmeek het om op te hou en dat die seun se oom ook die klas bygewoon het, maar nie die afrigter gekeer het nie.

“Die seun het gekla oor erge hoofpyn, maar die afrigter het voortgegaan om hom teen die grond te gooi totdat hy opgegooi het. Die afrigter het die seun nog ʼn aantal kere rondgegooi totdat Huang bewusteloos op die vloer gelê het,” het ʼn staatsaanklaer gesê.

“Ons hoop dat jy [Huang] in vrede sal rus en dat die reg sy gang sal gaan om jou familie te troos,” het Lu Shiow-yen, burgemeester van Taichung, in ʼn Facebook-plasing gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kremetart ·

Liewe Jesus, asseblief, hou die arme kind styf vas. Asseblief, staf die man wat dit gedoen het. Vergewe ons… amen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.