Kinder herroep sjokolade-eiers in Europa

Kinder Surprise-sjokolade-eier (Foto: VSA Doeane- en grensbeheerbeskerming via Wikimedia Commons)

Die Italiaanse lekkergoedgroep Ferrero het Dinsdag, twee weke voor Paasfees, gesê hy herroep Kinder-sjokolade-eiers in verskeie Europese lande oor ʼn moontlike verband met talle salmonella-gevalle.

Alhoewel daar nie bewyse is dat enige van die speelgoed-gevulde Surprise-sjokolade-eiers of enige ander produk salmonella bevat nie, het Ferrero aan AFP gesê hy herroep eerder die produkte as ʼn voorsorgmaatreël.

Die betrokke produkte kom van Ferrero se aanleg in Arlon, België, en is te koop aangebied in België, Brittanje, Frankryk, Duitsland en Swede.

Britse owerhede het die publiek Saterdag gewaarsku oor Kinder-produkte “met ʼn moontlike verband tot ʼn salmonella-uitbreking” wat ook kinders insluit.

ʼn Beampte het Dinsdag gesê die salmonella-gevalle in Brittanje het tot 63 toegeneem. Altesaam 21 gevalle is in Frankryk aangemeld en 15 het glo Kinder-produkte geëet wat nou herroep is, aldus die Franse openbare gesondheidsdiens. Die gemiddelde ouderdom van die kinders is vier jaar.

Salmonella is ʼn tipe bakterie wat simptome veroorsaak soos diarree, koors en maagkrampe in volwassenes. Dit is een van die mees algemene infeksies wat deur kos versprei word.

“Geen van ons Kinder-produkte op die mark het positief getoets vir salmonella nie en ons het nie enige klagtes van verbruikers ontvang nie,” het die maatskappy Maandag in ʼn verklaring gesê op sy Franse webwerf.

In Frankryk word honderde ton van die produk herroep, het ʼn woordvoerder vir die maatskappy gesê. Dit sluit die oorspronklike 20 g Kinder Surprise-sjokolade-eier in wat ʼn klein plastiekkapsule met ʼn speelding bevat, asook ʼn groter 100 g-weergawe. Die “verkoop teen”-datum is tussen Junie en Oktober 2022.

Kinder Schoko-Bons, Kinder-mini-eiers, Kinder Happy Moments, Kinder Mix en ʼn aantal ander produkte is ook herroep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.